Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 13:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie.

10. Ons het mos ’n nuwe altaar. Die priesters van die ou ooreenkoms het nie die voorreg om saam met ons rondom die nuwe altaar fees te vier nie.

11. Volgens die ou ooreenkoms het die hoëpriester altyd die bloed in die Heiligste deel ingebring, terwyl die dooie diere buite die blyplek van die mense verbrand is.

12. So is Jesus ook buite die stad dood, sodat Hy mense met sy bloed vir God aanvaarbaar kon maak.

13. Laat ons dan na Jesus toe gaan daar buite die stad, al moet ons net so bespot en verag word soos Hy.

14. Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is.

15. Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort.

16. Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak.

17. Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 13