Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 8:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Stefanus se dood was net die geleentheid waarop die godsdienstige leiers in Jerusalem gewag het. Hulle het nou met mag en mening onder die gelowiges in die stad ingeklim en hulle oral begin vervolg. Dit het veroorsaak dat die gelowiges in alle rigtings dwarsdeur Judea en Samaria gevlug het. Omtrent net die apostels het in Jerusalem agtergebly.

2. Stefanus is intussen begrawe deur ’n paar mans wat God met groot toewyding gedien het. Hulle was hartseer oor sy dood.

3. Saulus was daarop uit om die kerk heeltemal uit te roei. Hy het van huis tot huis gegaan en elke gelowige man en vrou wat hy in die hande kon kry, hardhandig laat vang en in die tronk gestop.

4. Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het nie opgehou om oor Jesus te praat nie.

5. Filippus, een van die sewe mans wat vroeër gehelp het om die armes in Jerusalem te versorg, het by ’n stad in Samaria aangekom en dadelik met hulle oor Jesus begin praat.

6. Sy kragtige preke en wonderwerke het gou die inwoners se aandag getrek.

7. Almal het na hom kom luister toe hulle sien hoe hy verlamdes en kreupeles gesond laat word en bose geeste uit baie mense verdryf. Hulle het met hulle eie ore gehoor hoe die bose magte aan die skree gaan as hulle uitgedryf word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 8