Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:25-39 Die Boodskap (DB)

25. Op ’n dag het hy hulle bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Vriende, ons maak regtig ’n goeie bestaan uit ons beeldjies. Dit sal egter nie meer lank so aanhou as ons nie iets drasties doen nie.

26. Daardie Paulus, van wie julle ook al gehoor het, is besig om die hele wêreld deurmekaar te maak met sy vreemde leringe. Omtrent elkeen in ons stad, ja, byna die hele Asië, begin nou al glo dat ons handgemaakte gode nie regtig lewe nie.

27. “As dit so aanhou, gaan niemand meer ons beelde koop nie. Die mense is besig om al hulle respek vir ons handewerk te verloor. Ons groot godin Artemis se naam word deur die modder gesleep. Binnekort sal niemand meer haar tempel wil besoek nie. Sy word immers deur ons hele provinsie en oor die hele wêreld heen as ’n magtige godin vereer.”

28. Toe die mense hoor wat Demetrius sê, was hulle baie kwaad. Hulle het begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Hulle geskree het die hele stad gou in oproer gehad. Baie mense het by die stad se amfiteater begin saamdrom.

29. Party van hulle het twee van Paulus se helpers, Gaius en Aristargos, gegryp en soontoe gesleep. Hulle twee was uit Noord-Griekeland afkomstig.

30. Toe Paulus daarvan hoor, wou hy dadelik met die skare gaan praat, maar die ander Christene het hom gekeer.

31. ’n Paar leiersfigure in die provinsie wat op daardie tydstip in Efese was en wat goeie vriende van Paulus was, het hom ook laat weet om onder geen omstandighede na die amfiteater toe te gaan nie.

32. Intussen het die skare in die amfiteater aangehou om slagspreuke te skree. Dit was later ’n hele deurmekaarspul. Almal het geskree net wat hulle wou. Niemand het ’n idee gehad waaroor dit eintlik gaan nie. Onder al die geraas deur het die Jode een van hulle leiers, ’n man met die naam

33. Aleksander, aangesê om die skare toe te spreek. Hy het probeer om hulle stil te maak en aan hulle te verduidelik dat die Jode nie die oorsaak van die oproer was nie. Maar toe die skare agterkom dat hy ’n Jood is, het hulle hom doodgeskree.

34. Met nuwe geesdrif het hulle weer begin skree: “Artemis is die groot godin van die Efesiërs!” Twee ure lank het dit so aangehou.

35. Uiteindelik het die stadsklerk daar opgedaag en die skare tot bedaring gebring. Hy het vir hulle gesê: “Inwoners van Efese, almal weet tog hoe belangrik ons stad is. Ons is immers die beskermers van Artemis se groot tempel en van haar standbeeld wat lank terug uit die hemel geval het.

36. Niemand kan tog daarteen stry nie. Word asseblief nou kalm. Moenie iets onverantwoordeliks aanvang nie.

37. Laat die twee mans los wat julle hierheen gesleep het. Hulle het niks uit Artemis se tempel gesteel nie. Hulle het ook geen lelike woord oor haar gesê nie.

38. Demetrius en sy klompie vakmanne moet maar ’n klag by die hof gaan lê as hulle voel dat iemand hulle te na gekom het. Ons het ’n goeie regstelsel met regters en howe.

39. As julle meer as dit wil hê, moet ons ’n vergadering van al die inwoners van die stad belê waar ons hierdie saak verder kan uitpraat. So nie, moet ons uitmekaargaan. Want netnou kla die Romeinse owerhede ons aan dat ons vandag ’n oproer begin het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19