Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:22-35 Die Boodskap (DB)

22. Die skare was teen daardie tyd ook al baie omgekrap oor dit wat Paulus en Silas verkondig het. Die hooflanddroste

23. sê toe vir die polisiemanne dat Paulus en Silas se klere daar op die plek van hulle afgeskeur moes word en dat hulle elkeen ’n behoorlike drag slae moes kry. Nadat Paulus en Silas pimpel en pers geslaan is, is hulle in die tronk gegooi.

24. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om hulle behoorlik op te pas. Hy het hulle in die sel reg in die middel van die tronk opgesluit. Boonop het hy swaar boeie om hulle voete vasgemaak.

25. Teen middernag het Paulus en Silas tot God begin bid. Hulle het ook lofliedere tot sy eer gesing. Die ander gevangenes was verstom hieroor. Doodstil het almal na hulle geluister.

26. Toe, uit die bloute, het ’n groot aardbewing die tronk geruk. Dit was so erg dat die seldeure oopgegaan en al die boeie van die gevangenes afgeval het.

27. Die hoof van die tronk het ook wakker geword van die aardskudding. Toe hy sien dat al die seldeure oopstaan, het hy gedink dat die gevangenes ontsnap het. Dadelik het hy sy swaard uitgepluk om homself dood te maak.

28. Maar Paulus het dit gesien en hard vir hom geskree: “Stop! Moenie dit doen nie! Ons almal is nog hier in die tronk.”

29. Dadelik het die hoof van die tronk ’n fakkel by een van die wagte gevat en binnetoe gehardloop. Toe hy by Paulus en Silas kom, het hy bang voor hulle neergeval.

30. Toe het hy hulle buitetoe gevat. “Menere, sê asseblief vir my wat ek moet doen om in die regte verhouding met God te kom,” het hy gepleit.

31. “Glo in die Here Jesus,” het Paulus geantwoord. “Dan sal God jou red en as sy kind aanvaar.

32. Hierdie goeie nuus geld vir jou en vir jou hele huisgesin.”

33. Die hoof van die tronk het toe vir Paulus en Silas na sy huis toe gevat. Almal in die huis moes hoor wat hierdie twee mans oor die Here te sê gehad het. Later het die tronkbewaarder agtergekom dat Paulus en Silas se wonde nog nie skoongemaak is nie. Hy het hulle gou-gou buitetoe gevat om dit te doen. Daarna is hy en sy hele huisgesin ook gedoop.

34. Toe het almal weer in die huis ingegaan en saamgeëet. Die hoof van die tronk en almal in sy huis was baie bly dat hulle nou ook in God geglo het.

35. Intussen, teen dagbreek se kant, het die hooflanddroste ’n boodskap met ’n paar polisiemanne na die tronk toe gestuur. “Laat daardie mans dadelik los!” was hulle opdrag aan die hoof van die tronk.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16