Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 14:4-14 Die Boodskap (DB)

4. Die mense van Ikonium was later in twee kampe verdeel oor Paulus en Barnabas. Party was aan hulle kant, terwyl ander weer aan die kant van hulle Joodse opponente was.

5. Diegene wat teen hulle was, het toe saam met sekere stadsraadslede besluit om hulle te laat vang. Hulle was van plan om eers vir Paulus en Barnabas ’n goeie drag slae te gee en hulle daarna met klippe dood te gooi. Paulus-hulle het daarvan te hore gekom en dadelik uit die stad padgegee.

6. Hulle het toe in die stede Listra en Derbe gaan preek.

7. Daar het hulle die goeie nuus oor Christus aan die mense gaan vertel.

8. In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie omdat hy van sy geboorte af verlam was.

9. Hy het op ’n dag gesit en luister hoe Paulus vir die mense van Jesus vertel. Paulus het na hom gekyk en agtergekom dat die man begin glo dat God sy lewe kan aanraak.

10. Toe het Paulus hard vir hom gesê: “Staan op! Begin loop!” Die man het dadelik orent gespring en begin rondbeweeg.

11. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, het hulle opgewonde in hulle Likaoniese taal uitgeroep: “Die gode het mense geword! Die gode het na ons toe gekom!”

12. Hulle het gesê Barnabas is Zeus, en dat Paulus Hermes is. Paulus is Hermes genoem omdat hy al die praatwerk gedoen het.

13. Dadelik het die hoofpriester van Zeus se tempel, wat net buite die stad was, ’n aantal bulle en groot blomkranse begin gereed kry. Dit is na die hekke van die stad gebring waar baie mense begin saamdrom het om ’n offer te bring.

14. Toe die Here se twee apostels sien wat besig was om te gebeur, was hulle baie geskok. Hulle het hulle klere van ontsteltenis geskeur en dadelik na die skare toe gehardloop.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 14