Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:28-37 Die Boodskap (DB)

28. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie.

29. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?”

30. Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my.

31. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen.

32. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’

33. “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.”

34. “Weet julle, ek sien nou dat God niemand voortrek nie,” het Petrus geantwoord. “Hy het regtig nie witbroodjies nie!

35. Hy aanvaar almal wat respek vir Hom het en wat doen wat reg is, maak nie saak uit watter volk hulle kom nie.

36. “Ek het goeie nuus vir julle: God het onlangs ’n baie belangrike boodskap na Israel toe gestuur. Dit is ook vir julle bedoel. Die inhoud van hierdie goeie nuus is dat God met ons almal vrede kom maak het. Jesus Christus het hierdie boodskap persoonlik na ons toe gebring. Hy is die Here oor almal.“Dalk het julle ook gehoor wat ’n ruk gelede daar in Judea met Hom gebeur het.

37. Dit het eintlik al in Galilea begin toe Johannes die Doper daar gepreek het dat mense hulle lewens moet verander en hulle moet laat doop. Daarna het Jesus van Nasaret op die toneel verskyn.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10