Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 3:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Juis daarom sit ek, Paulus, hier vir Christus in die tronk. Ek is in die tronk gegooi omdat ek vir julle wat nie Jode is nie van Christus vertel het.

2. Julle het seker al gehoor dat God my gevra het om vir julle te kom vertel hoe goed Hy regtig is.

3. God het duidelik vir my gewys wat sy plan met julle is, al het mense dit glad nie besef nie. Ek het al so ’n bietjie daarna begin verwys.

4. As julle nou verder lees, sal julle ook duidelik begin agterkom hoe die verrassende plan van God met Christus werk en hoe ek dit verstaan.

5. Deur die loop van die geskiedenis het die mense nie geweet wat God gaan doen nie. Nou is dit egter nie meer vir ons ’n geheim nie. Die Heilige Gees het dit aan al die mense vertel wat gekies is om God se Woord te verkondig.

6. Die geheim is dit: enigiemand wat in Christus Jesus glo (selfs al is hy ’n nie-Jood), word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee. So ’n persoon is dan saam met die ander gelowiges die liggaam van Christus. Hy kry alles wat God in die goeie boodskap aan Christus Jesus se mense beloof het.

7. God het my aangestel om hierdie nuus vir ander te gaan vertel. Dit is ’n voorreg wat God aan my gegee het, al verdien ek dit nie. Hy gee ook vir my die krag om dit te doen.

8. Van al die Christene is ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my.

9. Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ’n mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af wat God - wat alles gemaak het - wou doen, maar mense het dit net nie besef nie.

10. God wil hê dat die kerk vir al die onsigbare magte en heersers in die hemel sal wys hoe wonderlik slim Hy regtig is. Hy weet alles en beplan vir alles.

11. Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 3