hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 3 Die Boodskap (DB)

Mense sonder God lewe verskriklik sleg

1. Een ding moet julle nie vergeet nie: dit sal verskriklik gaan net voor die Here weer kom.

2. Ek gaan ’n lysie maak van wat mense dan alles sal doen. Elkeen sal net aan homself dink en niks vir ander omgee nie. Geld gaan vir hulle alles in hulle lewe word. Hulle gaan ’n klomp grootmonde wees wat dink hulle is beter as ander mense. Hulle sal nie omgee om ander mense baie seer te maak met hulle beledigings nie en hulle sal hulle nie meer steur aan hulle ouers nie. Hulle sal ondankbaar wees en niks vir God omgee nie.

3-4. Liefde sal nie deel uitmaak van hulle woordeskat nie, maar hulle sal alte goed weet hoe om ’n wrok teen ander te dra, of om lelike stories oor ander te versprei. Hulle sal spesialiseer daarin om net te doen wat hulle wil sonder om om te gee wat gaan gebeur, selfs al beteken dit dat hulle op so ’n manier mense buitengewoon seermaak. Moenie vir hulle voorstel om iets goeds te doen nie, want hulle haat dit. Jy sal hulle glad nie kan vertrou nie, want hulle sal jou om die eerste draai in die rug steek. Hulle sal nie omgee om deur hulle optrede ander mense in gevaar te stel nie en boonop sal hulle dink dat hulle baie beter is as ander mense. Hulle sal die poele van plesier kies eerder as vir God.

5. Van buite af sal dit lyk of hulle kerkmense is, maar aan hulle binnekant sal hulle dolleeg wees, sonder God en sy krag. Bly weg van hierdie tipe mense af.

Ken hierdie sondaars se strategie

6. Party van hulle gaan bly as gaste in die huis van gelowiges. Hulle bewerk dit dan so dat ’n vrou wat byvoorbeeld maklik iets glo, aan hulle lippe begin hang.

7. Omdat so ’n vrou nie ’n sterk persoonlikheid het nie, pla die dinge wat sy in die verlede gedoen het haar en buitendien begeer sy allerhande lelike dinge. Hierdie vroue stel altyd vreeslik belang om iets nuuts te hoor, maar hulle kom nooit by die waarheid uit nie en weet ook nie wat waar is en wat nie waar is nie.

8. Net soos Jannes en Jambres, die towenaars van die farao, Moses se teëstanders was, so is hierdie mense die waarheid se teëstanders. Hulle is deurmekaar en heeltemal van die spoor af, veral as dit oor die dinge van die geloof gaan.

9. Hierdie mense sal nie baie ver kom nie. Mense sal deur hulle sien soos hulle destyds deur Jannes en Jambres gesien het. Hulle sal sien dat hierdie mense nie weet waarvan hulle praat nie.

Vervolging is die kerk se voorland

10. Timoteus, jy ken my baie goed. Jy weet alles wat ek vir mense vertel van God en Christus. Jy weet hoe ek leef, wat ek van die lewe wil hê, hoe ek op Jesus vertrou en hoeveel tyd ek vir ander mense het. Jy ken ook my liefde vir ander en weet hoe geduldig ek met mense kan wees.

11. Ook my seerkry en swaarkry ter wille van Jesus ken jy. Jy onthou mos nog wat met my in Antiogië, Ikonium en Listra gebeur het. Hoe het hulle my nie probeer seermaak en vervolg nie! Maar die Here self het daarvoor gesorg dat ek veilig uit al hierdie dinge gekom het.

12. Elkeen wat Jesus s’n is en wat lewe soos God van hom verwag, moet weet dat hy ook vervolg sal word. Die rede is dat die slegte mense nie skielik beter gaan word nie.

13. Die klomp skelms gaan net woester en slegter word. Dit is ’n bose kringloop. Hulle lei ander op die verkeerde pad omdat die duiwel húlle op die verkeerde pad gelei het.

Bly op die koers waarop die Bybel ons geplaas het

14. Maar jy, Timoteus, moet jou nie ’n duim van koers af laat bring nie. Bly by die dinge wat vir jou geleer is en wat jy weet waar is. Jy weet mos wie dit alles vir jou geleer het.

15. Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou.

16. Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef.

17. Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te kan werk.