Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 3:9-18 Die Boodskap (DB)

9. Natuurlik sou ons van julle kon verwag om vir ons te sorg. Maar ons het nie op ons regte aangedring nie. Nee, ons het besluit om julle te kom dien. Op hierdie manier het ons vir julle ’n voorbeeld gestel.

10. Mag ek julle ook herinner aan ’n belangrike ding wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was: “As iemand te lui is om te werk, moet ander gelowiges nie vir hom sorg nie.”

11. Ek sê hierdie dinge omdat ek gehoor het dat ’n paar gelowiges daar by julle die spoor heeltemal byster geraak het. Hulle is te sleg om te werk, en nou verwag hulle van die ander om vir hulle kos aan te dra. Boonop steek hulle hul neuse in ander se sake.

12. Ek sê reguit vir al daardie mense, nee, ek beveel hulle in die Naam van die Here Jesus Christus: begin dadelik weer werk. Hulle moet van nou af self vir hulle gesinne sorg.

13. Broers en susters, julle moet asseblief aanhou om goed te doen aan ander mense. Julle mag nooit moeg word daarvoor nie.

14. Ek wil julle nog ’n keer waarsku: as mense in die kerk hulle nie steur aan dit wat ek in hierdie brief skryf nie, moet julle lig loop vir hulle. Bly weg van hulle af. Dan maak dit hulle skaam.

15. Maar moenie sulke mense heeltemal verwerp en soos vyande behandel nie. Julle moet julle juis oor hulle ontferm. Hulle is steeds deel van God se familie. Praat daarom mooi met hulle.

16. Die Here het vrede tussen Hom en ons gebring. Mag Hy nou ook aan julle sy wonderlike vrede gee. Mag julle dit op verrassende nuwe maniere in jul eie lewe beleef. Dink daaraan, die Here is altyd by julle almal.

17. Ek self, Paulus, sluit hierdie brief in my eie handskrif af - soos ek in al my briewe maak. Ek, Paulus, stuur hier groete aan julle in my eie hand. Dit is die bewys dat dié brief regtig van my af kom. Tot hier toe het my sekretaris neergeskryf wat ek vir julle wou sê. Maar nou skryf ek self die slotwoorde.

18. Die goedheid van ons Here Jesus Christus bly by julle almal.

Lees volledige hoofstuk 2 Tessalonisense 3