hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 2 Die Boodskap (DB)

Oppas vir mense wat nie na God luister nie

1. Ongelukkig was daar nog altyd ’n klomp vals profete in Israel. Binnekort gaan dieselfde daar by julle gebeur. ’n Klomp mense sal allerhande skewe sienings oor God daar by julle probeer insmokkel. Hulle sal ’n bespotting maak van die Here wat hulle losgekoop het. Ek sê vir julle: hulle oordeel is voor die deur, en baie gou ook!

2. Hulle sal baie mense ompraat om allerhande afstootlike sondes saam met hulle te doen. Dit sal maak dat mense allerhande slegte dinge oor die Pad van die Waarheid begin kwytraak.

3. Hierdie mense is ’n spul geldwolwe. Hulle sal die vroomste stories aan julle opdis net om julle geld in die hande te kry. Maar dit sal hulle nie help nie. God het al lankal besluit wat Hy met hulle gaan doen. Hulle ondergang staan vas.

God vat sondaars vas

4. God laat nie met Hom speel nie. Onthou julle nog hoe Hy selfs ’n klompie engele wat teen Hom gesondig het, nie gespaar het nie. Hy het hulle in die hel gegooi. Daar word hulle nou in die pikdonker dieptes gevange gehou totdat die groot oordeelsdag aanbreek.

5. God het ook nie die wêreld daar in die ou dae met hulle verkeerde dade laat wegkom nie. Hy het toe die hele sondige wêreld in water laat vergaan. Net Noag, die enigste persoon wat in daardie tyd vir mense gesê het om na God te luister, en sewe ander mense se lewens het Hy van vernietiging gered.

6. God het Sodom en Gomorra ook veroordeel en met die aarde gelyk gemaak. Hulle dien as ’n voorbeeld van die soort oordeel wat God sal laat neerkom op almal wat sonder Hom leef.

7. In daardie tyd het God net vir Lot gespaar. Hy het in die regte verhouding met God geleef te midde van al die seksuele losbandigheid van almal rondom hom wat hulle nie aan God gesteur het nie.

8. Hierdie goeie man moes dag na dag vaskyk in die verskriklike sondes wat daar hoogty gevier het. Hy wat in die regte verhouding met God geleef het, moes sulke gruwelike dinge aanhoor dat dit hom byna van sy kop af moes laat raak het.

Die Here help sy kinders om

9. Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ’n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie. Maar die Here weet ook hoe om slegte mense te straf en hoe om hulle gevange te hou tot op die groot oordeelsdag.

10. Dit is veral daardie mense wat agter al hulle seksuele begeertes aanloop en hulle oorgee aan elke vorm van seksuele perversiteit wat moet lig loop. Hierdie mense wys dat hulle hulle nie aan die Here se gesag steur nie. Daarom gaan Hy hulle swaar straf.Hierdie vals leraars oor wie ek met julle praat, dink heeltemal te veel van hulleself. Hulle is arrogant.

Vals mense in die hart van die kerk

11. Dit pla hulle nie wanneer hulle die glorieryke hemelse wesens beledig nie. Nie eens een van die engele, wat baie sterker en belangriker as daardie mense is, sal so iets waag nie. Geen engel sal ooit beledigende dinge oor hierdie wesens sê voor die Here nie.

12. Hierdie mense is soos ’n trop wilde diere wat gevang en vernietig moet word. Hulle sê beledigende dinge sonder dat hulle mooi weet waarmee hulle besig is. Maar hulle sal nie daarmee wegkom nie. Op die ou end sal hulle gevang word.

13. En die beloning vir al die kwaad wat hulle hier op aarde aangevang het? Pyn en lyding, vir altyd! Hulle geniet dit om in die middel van die dag die een dronkpartytjie na die ander te hou. Kyk net wat vang hulle alles aan wanneer hulle saam met julle feesvier; hulle gee hulle dan oor aan allerhande uitspattighede. Hulle gaan heeltemal oorboord in hulle dwaalweë.

14. Watter skaamtelose mense! Hulle kan hulle oë nie van ander mense se huweliksmaats afhou nie. Die een perversiteit na die ander is hulle kos. Ongelukkig verlei hulle ook ander mense wie se geloof nog nie so sterk is nie om al hierdie dinge saam met hulle te doen. Boonop is hulle geldgierig, die vervloekte spul!

15. Hierdie spul het die reguit pad verlaat. Hulle is van koers af. Hulle doen presies wat Bileam, die seun van Beor, vroeër aangevang het. Hy is daardie vals profeet wie se liefde vir geld hom duur te staan gekom het.

16. Maar die Bybel vertel vir ons dat Bileam se donkie net betyds met hom in ’n menslike stem gepraat het. Dit het gekeer dat die profeet met sy bose planne voortgaan.

Sonde bring die dood

17. Die mense wat daar by julle optree, is soos fonteine wat opgedroog het. Hulle is soos miswolke wat deur ’n stormwind rondgewaai word. Daarom word daar in die donkerste plekke van die doderyk vir hulle ’n plek gereed gehou.

18. Hulle is ongeskik en praat die grootste nonsens. Hulle verlei onskuldige mense om saam met hulle aan hulle afstootlike seksuele sondes deel te neem. Nuwe gelowiges wat maar pas van hulle sondige verlede afgesien het, is veral die prooi van dié mense. Hulle sleep die niksvermoedende gelowiges saam met hulle in die ellende in.

19. Natuurlik beloof hulle hemel en aarde aan hierdie arme mense. Maar van die beloofde vryheid kom daar net mooi niks nie, want die mense wat hierdie leë beloftes maak, is self in die kloue van die dood vasgevang. Immers, as iets jou in sy mag beethet, is jy ’n slaaf daarvan.

Moenie met God se genade speel nie

20. Wanneer mense uit die gemors van hierdie sondige wêreld gekom het nadat hulle ons Here en Redder, Jesus Christus, leer ken het, en hulle val daarna weer terug in al hulle sondes, is hulle uiteindelik slegter daaraan toe as aan die begin.

21. Dit sou vir daardie mense beter gewees het dat hulle nooit op God se pad begin stap het nie as dat hulle daarop begin stap het en toe van Hom en sy voorskrifte af weggedwaal het.

22. Daar is twee spreekwoorde wat hierdie mense baie goed beskryf: “Dit is net ’n hond wat so dom is om na sy eie braaksel terug te loop.” En: “Dit is net ’n vark wat so dom is om in die modder te gaan rol nadat hy skoon gewas is.”