hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 1 Die Boodskap (DB)

1. Van Simon Petrus. Ek is ’n dienskneg van Jesus Christus. Hy het my as een van sy apostels aangestel. God is baie goed. Daarom het Hy en ons Verlosser, Jesus Christus, dit so beskik dat julle glo. Omdat God vir julle baie goed is, glo julle nou, net soos ek.

2. Ek bid dat God se oorvloedige goedheid en vrede julle lewens sal oorspoel! Mag julle kennis van God en van Jesus ons Here julle help om al hierdie hemelse gawes meer te beleef.

Leef soos Christus wil hê

3. Die Here se hemelse krag het alles vir ons gegee wat ons nodig het om elke dag reg te leef en in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan. Ons ken God nou op ’n totaal nuwe manier. Hyself wat so vol heerlikheid en grootheid is, het ons elkeen geroep om in Hom te glo.

4. Toe Hy dit gedoen het, het Hy boonop die wonderlikste en die grootste beloftes aan ons gegee. Sy doel met hierdie hemelse geskenke is om julle in staat te stel om nee te kan sê vir elke versoeking. Gee dadelik pad wanneer julle eie begeertes julle op sleeptou wil neem agter verkeerde dinge aan. Dan kry julle al hoe meer deel aan God se karakter.

5. Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Gaan só te werk: Span julle in om altyd net die regte dinge te doen.  Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken. 

6. Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie.  Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk!  Saam met standvastigheid gaan ’n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat julle doen. 

7. Saam met ’n lewe wat God verheerlik, gaan absolute lojaliteit teenoor ander gelowiges.  Saam met liefde vir ander gelowiges gaan liefde vir alle ander mense. Gee regtig om vir almal met wie julle elke dag te doen kry.

8. As julle al hierdie dinge doen, as julle al hoe meer leef soos die Here dit van ons verwag, sal julle nooit verveeld rondsit nie. Dan sal daar nooit ’n dag verbygaan dat julle nie voluit vir ons Here Jesus Christus leef nie. Julle kennis van Hom sal sommer baie vrug dra in julle lewe.

9. Gelowiges wat hierdie dinge nie hulle eie maak nie en wat nie voluit vir die Here leef nie, is soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus hulle van al hulle sondes skoongewas het toe hulle tot bekering gekom het.

Gryp elke kans aan om vir die Here te leef

10. My broers en susters, wys deur alles wat julle doen dat God julle na Hom toe geroep het. Wys dat God julle uitgekies het om in Hom te glo. Doen dit, dan sal julle nooit oor die sonde struikel nie.

11. Dan sal julle met oop arms soos helde ontvang word in God se nuwe wêreld. Daar regeer ons Here en Verlosser, Jesus Christus, vir altyd as Koning.

Onthou!

12. Al weet julle alles wat ek vir julle gesê het, moet ek julle altyd weer van voor af daaraan herinner. Ook al staan julle vas in die Here se waarheid, moet ek nog ’n slag vir julle sê hoe om tot eer van die Here te leef.

13. Dis my roeping om julle aan te moedig deur julle te herinner hoe om te leef so lank as wat ek nog hier is.

14. Ongelukkig sal dit nie meer te lank wees nie, want my dood is voor die deur. Ons Here Jesus Christus het dit duidelik vir my gewys.

15. Daarom skryf ek al hierdie dinge neer sodat julle selfs ná my dood kan onthou hoe julle moet leef.

Luister na die apostels en die profete

16. Onthou julle nog hoe ons vroeër met julle gepraat het oor die krag van ons Here Jesus Christus en oor sy terugkeer na die aarde toe? Ons het glad nie vir julle gejok, of ’n klomp stories uit ons duim gesuig nie. Natuurlik nie. Ons het immers met ons eie oë gesien watter groot dinge Jesus Christus gedoen het toe Hy nog op aarde was.

17. Onthou julle toe Christus op die berg saam met Moses en Elia was? God het vir Christus daar met groot eer en heerlikheid bekroon. Die Allerhoogste het uit die hemel gepraat en gesê: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Ek is baie bly oor Hom.”

18. Op daardie heilige berg het ek met my eie ore God se stem gehoor.

19. Hierdie gebeure daar op die berg het elke woord wat die profete in die Bybel sê nog sterker vir ons bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lig wat in die donker skyn. Julle moet ook aan hulle woorde vashou totdat die volle lig van God in julle lewe skyn. Soos die môrester wat wys dat die dag aangebreek het, sal Hy self die donker wegvat uit julle binneste.

20. Onthou, dit wat die profete in die Bybel sê, het hulle nie self uitgedink nie,

21. want geen ware profesie kom ooit van mense af nie. Nee, die Heilige Gees het presies vir hulle gewys wat hulle oor God moes sê. Hy het hulle aangevuur om oor Hom te praat.