hoofstukke

  1. 1

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Johannes 1 Die Boodskap (DB)

1. Van die oudste, julle geestelike leier. Hierdie brief is vir die gemeente, die uitverkore vrou en haar kinders. Ek het julle regtig lief soos ’n Christen iemand lief behoort te hê. Dit geld nie vir my alleen nie. Almal wat God se waarheid leer ken het, het julle ook so lief.

2. Immers, die waarheid gee vir ons rigting in die lewe. Dit sal vir ewig so bly. En dit is nie al nie.

3. Ons het ook daardie uitsonderlike vrede wat net God kan gee. God, ons Vader, en sy Seun, Jesus Christus, is so goed vir ons, sonder dat ons dit verdien. Ons is mos mense wat elke dag uit God se waarheid en liefde leef.

Ons moet mekaar liefhê

4. Ek het van julle gemeentelede raakgeloop. Die goddelike waarheid straal sommer uit die manier waarop hulle hulle gedra. Ek kan julle nie sê hoe bly ek was nie! Dié soort lewenstyl is mos wat ons hemelse Vader van ons wil hê.

5. Liewe vrou, ons moet mekaar liefhê! Ek vra mooi. Ek vra nie nou iets wat ek nie voorheen van julle gevra het nie. Dit is die ou opdrag wat ons nog altyd het.

6. Liefde is mos niks anders as om volgens die wil van God te leef nie. En wat wil God dan van ons hê? Dít: wat ons doen, moet ons in liefde doen. Ons weet dit al van die eerste dag af dat ons die evangelie gehoor het.

Staan by Jesus

7. Nou iets anders. Pas op! Die wêreld is vol mense wat ander om die bos wil lei. Hulle ontken dat Jesus Christus regtig mens van vlees en bloed geword het. Iemand wat so sê, is die misleier en die antichris. Wees daarom op julle hoede.

8. Moenie toelaat dat ons werk onder julle ontspoor nie. Julle moet mos nog die volle beloning van God ontvang.

9. Daar is dus twee moontlikhede: Iemand kan vierkant agter die leer oor Jesus bly staan en so aan die kant van die Vader en die Seun bly staan. Iemand kan in ’n ander rigting koers kry en nie vas bly staan by die leer oor Jesus nie. So ’n persoon staan nie aan die kant van God nie.

10. Veronderstel daar daag iemand by julle op en vertel julle allerhande snaakse dinge oor Jesus Christus, wat moet julle doen? Moenie hom in julle huis innooi nie. Om die waarheid te sê, julle moet hom nie eens groet nie.

11. Moet glad nie die idee skep dat julle iets met hom te doen wil hê nie. Deur hom bloot te groet sê jy eintlik al: “Ek en jy is goeie vriende. Ek is deel van al die slegte en verkeerde dinge wat jy doen en sê.”

12. Ek het nog so baie om aan julle te skryf. Dit gaan egter vir ons almal baie lekkerder wees om dit persoonlik met mekaar te bespreek. Ek hoop daarom om binnekort by julle te kom kuier. Ek skryf dus nie verder nie.

13. Die gemeente hier - of, soos gelowiges ook kan sê, “die kinders van jou uitverkore suster” - stuur groete.