hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 3 Die Boodskap (DB)

Leiers in die gemeente se

1. Wat ek nou sê, staan soos ’n paal bo water: as iemand baie graag ’n leier in die gemeente wil wees, wil hy ’n belangrike en goeie werk in die gemeente doen. Daarom kan nie enigiemand ’n leier wees nie.

2. Daar moet niks slegs oor so ’n persoon gesê kan word nie. Hy moet getrou wees aan sy vrou en nie uitspattig lewe nie. Hy moet nie ongeërg wees en niks omgee vir wat hy doen nie. Hy moet ordentlik lewe en ander Christene help waar hy kan, selfs al vra hulle hom vir blyplek. Verder moet hy ’n goeie onderwyser wees, want hy sal ander van God moet leer.

3. Hy moet ook nie ’n drinker of ’n bakleier wees nie. In plaas daarvan dat hy die hele tyd skoorsoek, moet hy eerder vriendelik wees. Geld moet ook nie sy baas wees nie.

4. Hy moet ook mooi na sy gesin kyk en sorg dat sy kinders respek vir hom het en na hom luister.

5. (As iemand nie eens sy eie gesin goed kan hanteer nie, hoe op aarde sal hy dan na die gemeente kan kyk?)

6. Dit moet ook liefs iemand wees wat darem al ’n rukkie ’n Christen is. Die gevaar is dat iemand wat onlangs ’n Christen geword het, dalk te veel van homself sal begin dink as hy so gou ’n leier word. Dit sal sy verhouding met die Here natuurlik baie sleg doen. Die duiwel het ook mos te veel van homself begin dink.

7. Nie-Christene moet niks slegs kan sê van die leier van die gemeente nie, want anders sal die duiwel alles in die wiele ry wat die leier doen.

Diakens moet reg leef

8. Net so moet diakens mense wees wat by ander respek afdwing en op wie ’n mens kan peil trek. Hulle moet nie aan alkohol verslaaf wees of in besigheid oneerlike wins probeer maak nie. Verder moet die diep waarhede van God waarin hulle glo, hulle hele lewe vol maak.

9. Hulle moet opreg wees en niks moet hulle gewete pla nie.

10. Voordat hulle diakens word, moet die gemeente eers seker maak of hulle dit kan word. Die gemeente moet moeite doen om te kyk of daar nie slegte gerugte die rondte doen oor die moontlike diakens nie. As daar nie klagtes is nie, kan die persone as diakens aangestel word.

11. Vroue wat in die gemeente help, moet ook respek afdwing by ander. Hulle moenie skinder en uitspattig lewe nie. ’n Mens moet ook op hulle kan peil trek.

12. ’n Diaken moet getrou bly aan sy vrou en moet ’n goeie man vir sy vrou en pa vir sy kinders wees.

13. As hy sy werk in die gemeente goed doen, sal die mense hom respekteer. Hy sal sonder om bang of onseker te wees sy werk doen omdat hy in Christus Jesus glo.

Jesus is die waarheid

14. Ek hoop om gou weer na julle toe te kom.

15. Ek skryf hierdie dinge vir jou sodat as ek miskien nie so gou kan kom nie, jy sal weet hoe mense hulle in God se huisgesin moet gedra. Die gemeente van die lewende God is hierdie huisgesin. Die gemeente het nie alleen die waarheid nie, maar moet ook sorg dat die waarheid nie verdraai word nie.

16. Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: “Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.”