Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Ek, Paulus, is die skrywer van hierdie brief. Jesus Christus het my spesiaal gestuur om vir almal die goeie nuus te vertel. God, wat ons red, en Christus Jesus wou dit so gehad het. Ons vertrou mos vir Jesus om al God se beloftes vir ons waar te maak.

2. Hierdie brief is vir jou, Timoteus. Jy is my ware geestelike seun, want jy glo ook in Jesus Christus. Mag God ons Vader, en Christus Jesus ons Here, baie goed vir jou wees, meer as wat jy verdien. Mag jy hulle warm hart van liefde elke dag ervaar en mag dit vir jou daardie wonderlike vrede gee wat ’n mens net by God en Christus kan kry.

3. Jy onthou mos nog wat ek jou gevra het net voor ek weg is Noord-Griekeland toe. Ek het gevra dat jy in Efese moes bly. Moenie daar weggaan nie, want jy moet sorg dat daardie vals predikers end kry met al die verkeerde dinge wat hulle van God vertel.

4. Hulle hou hulle besig met ’n klomp stories wat hulle uit die duim suig en probeer allerhande spesiale dinge uit geslagsregisters aflei. Hulle wil net ’n stryery aan die gang sit in plaas daarvan om hulle met die werk van God besig te hou. ’n Gelowige sal mos eerder God se werk wil doen.

5. Doen dit asseblief, want dit lei tot liefde. Dit gebeur as ’n mens nie iets vir God probeer wegsteek nie en daar nie kwade bedoelings in jou is nie. Jy moet ook regtig op God vertrou en nie net maak of jy op Hom vertrou nie.

6. Party mense vertrou nie meer op God nie, maar hou hulle eerder besig met ’n klomp gepraat wat eintlik g’n sin maak nie.

7. Hulle wil so graag hê mense moet sê dat hulle kenners van die godsdienstige sake en wet is. Maar ongelukkig weet hulle glad nie waarvan hulle praat nie. Hulle praat asof hulle so baie weet, maar eintlik weet hulle niks.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 1