Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 5:15-28 Die Boodskap (DB)

15. Sê vir ander gelowiges om nie wraak te neem nie. As iemand iets leliks aan hulle gedoen het, mag hulle nie iets leliks terugdoen nie. Sorg eerder dat julle van vroeg tot laat goeie dinge aan mekaar en aan ander mense buite die kerk doen.

16. Wees altyd vol blydskap.

17. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor!

18. Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het toe julle in Christus Jesus begin glo het.

19. Moenie julle doof hou wanneer die Gees met julle praat nie. Luister fyn na sy stem.

20. Moenie die profetiese boodskappe van ander oorhaastig van die tafel vee nie. Luister na alles wat hulle sê,

21. maar wees versigtig. Stel vas of dit regtig van die Here af kom. Bêre al daardie boodskappe wat wel van God af kom in julle hart, en gaan doen dit,

22. maar bly weg van boodskappe wat julle op die verkeerde pad kan lei.

23. Ek bid dat God, wat vrede tussen ons en Hom gemaak het, julle lewe geheel en al vir Hom opsy sal sit. Mag Hy julle met alles binne-in julle oppas tot op daardie dag dat ons Here Jesus Christus weer kom. Mag Hy julle op ’n dag silwerskoon voor Christus laat staan, sonder ’n spikkeltjie sonde in julle lewe.

24. Ek weet God sal my gebed verhoor, want Hy hou sy woord. Toe Hy julle sy kinders gemaak het, het Hy belowe dat Hy die hele tyd by julle sal wees tot op die heel laaste dag.

25. My liewe broers en susters, sal julle asseblief ook vir my en my helpers bid?

26. Julle moet mekaar vriendelik ontvang. Soen mekaar met ’n heilige soen as julle saamkom soos wat dit by Christene pas.

27. En ek versoek julle baie ernstig in die Naam van die Here dat hierdie brief by julle byeenkomste aan al die gelowiges voorgelees word.

28. Die oorvloedige goedheid van ons Here Jesus Christus is by julle, nou en vir altyd.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 5