hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 3 Die Boodskap (DB)

Gee om vir mekaar

1. Maar wag, ek was nog besig om julle te vertel hoe ek probeer het om na julle toe te kom.

2. Toe ek in Atene gepreek het, het ek later so baie na julle verlang dat ek op die ou end besluit het om Timoteus na julle toe te stuur. Hy is ’n dierbare broer van ons almal. Hy staan saam met my in God se diens en help my om die goeie nuus oor Christus oral bekend te maak. Ek het Timoteus na julle toe gestuur om julle geloof sterk te maak en om julle aan te moedig om voluit op die Here se pad te bly stap.

3. Ek wil nie hê julle moet ophou glo nie, veral nie omdat julle nou begin ly vir julle geloof nie. Onthou, die Here het gesê dat ons vervolg sal word omdat ons glo.

4. Toe ek nog daar by julle was, het ek dikwels gesê dat ons almal moet ly. Dit het toe presies net so gebeur.

5. In elk geval, toe ek dit nie meer kon uithou van verlange na julle nie, het ek besluit om Timoteus na julle toe te stuur. Ek wou baie graag weet of julle nog glo. Ek was benoud dat die groot verleier julle dalk verlei het om terug te val in julle ou sondes. Dan was al ons harde werk daarmee heen.

Die Here se kinders kan vasbyt op die regte pad

6. Maar toe Timoteus daar van julle af terugkom, het hy goeie nuus vir my gehad. Hy het kom vertel dat julle vertroue in die Here sterk is en dat julle vir mekaar lief is. Boonop het julle die mooiste herinneringe aan my en verlang julle om my weer te sien; net soos ek ook na julle almal verlang.

7. Tussen al die vervolging en swaarkry deur wat ek moet verduur, het die nuus dat julle steeds glo my sommer baie moed gegee.

8. Nou leef ek weer met ’n glimlag omdat julle steeds op die Here se pad stap.

9. Hoe kan ek ooit vir God genoeg dankie sê vir julle almal? Julle verander my gebede in een groot fees! Want ek hou net aan om dank aan ons wonderlike God te bring oor julle. My lewe loop oor van vreugde oor julle!

10. In dieselfde asem bid ek nog die hele tyd baie ernstig dat God dit vir my moontlik sal maak om weer daar by julle uit te kom. Ek wil julle baie graag weer sien. Ek moet julle geloof nog sterker maak sodat daar niks in julle geestelike toerusting sal ontbreek nie.

Bid vir mekaar

11. Ek vertrou op ons God en Vader en op ons Here Jesus om my op die regte tyd daar na julle toe te laat kom.

12. My gebed is dat die Here julle baie lief vir mekaar sal maak. En ook vir ander mense. Mag julle liefde net sterker en sterker word. Julle moet net so lief wees vir ander as wat ek nou vir julle is.

13. Ek bid dat julle lewe van binne af sal verander sodat julle die hele tyd net vir God sal leef. Dan sal daar nie ’n enkele krapmerk van die sonde in julle lewe te sien wees as julle op die laaste dag voor God ons Vader moet gaan staan nie. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus en almal wat aan Hom behoort, terugkeer, sal julle spesiaal aan God toegewy wees. Dit is die waarheid!