Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:12-25 Die Boodskap (DB)

12. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur.

13. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra.

14. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie.

15. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg.

16. Die Skrif sê:“Julle moet niks met die sonde te doen hê nie, want God het niks daarmee te doen nie.”

17. Julle ken mos julle Vader met wie julle so in gebed praat. Hy trek niemand voor nie. Wat vir Hom saak maak, is of iemand vir Hom leef of nie. Laat julle hele lewe dus vertel van die respek wat julle vir God het.

18. Julle is nie mense wat net vir hierdie wêreld leef en vir wat julle daaruit kan kry nie. Dinge het mos heeltemal vir julle verander. Vroeër was julle, soos julle voorouers, mense wat in ’n geestelike tronk gesit het. Soos mense vasgevang agter tralies het julle ’n doellose en leë lewe gelei.

19. Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal, en wat ’n groot prys was dit nie!

20. God self het baie lank terug, voor die wêreld nog gemaak is, besluit dat Jesus dit sou doen. Hy moes die volmaakte Lam vir die perfekte offer wees, sonder enige fout. ’n Beter offer kan daar nie wees nie. Julle het nou die voorreg om te sien hoe God sy plan hier aan die einde ter wille van julle uitvoer.

21. Julle kan op God vertrou, omdat julle gesien het wat Hy vir Jesus gedoen het. Hy het Jesus uit die dood opgewek en aan Hom eer en baie hoë status gegee. Net God kan dit doen. Julle kan God dus vertrou. Julle kan maar seker weet dat Hy dit alles iewers in die toekoms ook met julle sal doen.

22. Julle moet lojaal wees teenoor mekaar en mekaar help waar julle ook al kan. Julle luister nou nie meer na verkeerde dinge nie. Julle lewe nou mos graag soos God van julle verwag en volgens wat vir Hom reg is. Hy verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Julle moenie allerhande bymotiewe hê nie, maar moet opreg wees. God self het julle mos sy kinders gemaak.

23. Toe julle sy boodskap gehoor het, het julle die nuwe lewe saam met God leer ken, ’n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit is vir ewig waar.

24. Die Skrif sê nie verniet nie:“Elke mens is slegs soos ’n grashalmpie. Dit is met mense nie anders as met ’n blom in die veld nie. Die grashalmpie verdroog maklik en die blom se blaartjies val na ’n rukkie nutteloos op die grond. Dit is so tydelik.

25. Maar die Woord van die Here sal altyd waar bly.”Hierdie “Woord” is die goeie boodskap oor Jesus wat julle gehoor het.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1