Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Nou kom ek by die vrae in julle brief. Daar is niks mee verkeerd as iemand nie trou nie.

2. Dit gee egter nie vir so iemand die groen lig om maar seksueel te leef soos hy wil nie. Die versoekings is maar groot. Seks is bedoel vir die huwelik en daarom is dit beter dat mense liewer trou en elkeen so sy eie maat het.

3. Ek bedoel dat hulle werklik seksuele maats vir mekaar moet wees en dit vir mekaar aangenaam moet maak.

4. In die huwelik kan die vrou nie maak asof die man geen sê oor haar liggaam het nie. Dieselfde geld vir die man. Die vrou kan ook aanspraak maak op sy liggaam. Hulle moet vir mekaar beskikbaar wees, veral op seksuele gebied.

5. Hou mekaar op seksuele gebied gelukkig, behalwe as julle saam besluit om ’n rukkie lank nie saam te verkeer nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur as julle ’n ruk lank op ’n spesiale manier op gebed wil konsentreer. Kom daarna weer saam. Moenie Satan ’n kans gee om julle uit te vang as julle selfbeheersing op ’n laagtepunt is nie.

6. Ek is nie besig om julle te beveel wat om te doen nie. Dit is maar net goeie raad.

7. Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry.

8. Vir die mense wat nog nie getroud is nie en vir elke vrou wat haar man verloor het, het ek ’n spesiale boodskap: dit sal vir hulle goed wees om soos ek ongetroud te bly.

9. Wanneer dit egter vir hulle moeilik word om hulle begeertes en emosies te beheer, moet hulle liewer maar trou. Ja, as hulle moet kies tussen trou en om heeltyd te veg teen hulle natuurlike seksuele begeertes, is die keuse eenvoudig: hulle moet trou.Bly getrou aan mekaar.

10. Dit bring my by die getroudes. Ek het ook iets om vir hulle te sê. Dit is wat die Here self verwag: getroudes moet getroud bly en mag nie skei nie.

11. As iemand klaar geskei is, moet hy nie weer met iemand anders trou nie. Die ander moontlikheid is natuurlik om weer na sy maat toe terug te gaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7