Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5:14-21 Die Boodskap (DB)

14. Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat.

15. Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra.

16. Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie.

17. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie.

18. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie.

19. Ons weet dat ons kinders van God is. Al die ander mense in die wêreld wat nie kinders van God is nie, is verstrik in die mag van die Bose.

20. Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe.

21. My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder of keer om God voluit te dien.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 5