Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Wie in die Seun van God glo, hou hier diep binne-in hom aan hierdie getuienis van God vas. Daaruit put hy baie motivering. Wie God egter nie glo nie, gee voor dat God ’n klomp leuens sou vertel. So ’n ongelowige weier sowaar om die getuienis wat God self oor sy Seun gelewer het, ernstig op te neem.

11. Wat behels hierdie getuienis oor sy Seun presies? God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar.

12. Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis.

13. Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het.

14. Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat.

15. Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra.

16. Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie.

17. Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie.

18. Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 5