Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 3:13-24 Die Boodskap (DB)

13. Julle moet dus nie verbaas wees nie, broers, as die ongelowige wêreld julle haat.

14. Ons weet mos: ons was eers geestelik dood, maar ons toestand is verander. Ons lewe nou! Dit kan almal sien uit ons liefde vir ons medegelowiges. Aan die ander kant is iemand sonder liefde in die kloue van die geestelike dood.

15. Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar. En dit weet julle, ’n persoon kan nie tegelyk deur moord ’n ander se lewe van hom wegvat en dan self vir ewig wil lewe nie.

16. Wil julle weet wat liefde is? Ons het ’n goeie voorbeeld daarvan: Jesus Christus het Homself gegee om tot ons voordeel doodgemaak te word. Ons behoort presies dieselfde te doen. Ons moet bereid wees om ons lewe tot die voordeel van ons medegelowiges te gee.

17. Byvoorbeeld, veronderstel iemand het alles wat hy nodig het. Hy kom egter agter dat ’n medegelowige eenvoudig nie genoeg het om oor die weg te kom nie. Wat nou gemaak? Wel, as die persoon wat genoeg het, meen die nood van die ander een raak hom nie en ongevoelig daarby verbykyk, flits die rooi ligte. Daardie persoon tree eenvoudig nie op uit die liefde wat van God kom nie.

18. My liewe kinders, ons liefde moenie net uit ’n gepraat bestaan nie. Dit moet in dade uitgeleef word. Dit is wat iemand doen vir wie God se waarheid belangrik is.

19. So sal ons daarvan seker kan wees dat wat ons doen uit die fontein van God se waarheid borrel. Ons sal met vertroue voor God self kan staan.

20. Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede. Hy weet immers meer oor ons as ons self.

21. My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie.

22. Dan kan ons dinge van Hom vra en ons sal dit van Hom kry. Ons vra en doen immers net dit wat in ooreenstemming is met God se wil en wat Hom tevrede en gelukkig maak.

23. Dít is wat God wil hê: ons moet sy Seun, Jesus Christus, volledig in die geloof aanvaar vir wie Hy is. Daarmee saam moet ons die wil van Jesus doen deur mekaar lief te hê.

24. Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 3