Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2:1-13 Die Boodskap (DB)

1. My liewe kinders, daar is ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf. Julle moet nooit iets doen waarvan God nie hou nie. As een van ons egter wel so ’n fout maak, kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand wat ons op ’n baie besondere manier sal help.

2. Hy sal vir ons gaan mooipraat by ons hemelse Vader. Ek praat natuurlik van Jesus Christus. Hy is die ideale Een om dit te doen, want die verhouding tussen Hom en die Vader is baie goed. Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons sondes oorsien. Jesus Christus is nie net bereid om dit vir óns te vra nie, maar ook vir elke mens op aarde wat bereid is om na Hom toe te kom.

3. Maar ons kan ons afvra: Hoe kan ons seker weet dat ons Hom so goed ken dat Hy dit alles vir ons sal doen? Wel, as ons graag doen wat Hy van ons vra, kan ons seker wees.

4. Daarteenoor is iemand wat beweer: “Ek ken Hom baie goed,” maar nie doen wat Jesus vra nie, natuurlik ’n leuenaar. So iemand kan nie eens “waarheid” spel nie.

5. Die liefde wat God gee, blom en bloei juis in hom wat gehoorsaam luister na wat Jesus wil hê.

6. Ons moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk maak om presies so te leef soos Jesus geleef het. So kan ons seker wees dat ons deel van God se familie is en bly.

7. My geliefde vriende, dit is nie ’n klomp nuwe dinge wat ek nou skielik van julle vra nie. Dit gaan oor die ou, bekende dinge wat God van sy kinders verwag. Vandat julle die boodskap gehoor en Christene geword het, ken julle dit mos al.

8. Maar wat ek wel doen, is om julle weer aan die vars en nuwe kant van God se wil te herinner. Die nuutheid en egtheid daarvan sien julle in Jesus, soos ook in julleself, die gelowiges.

9. Kyk mooi! God se ware lig skyn reeds helder. En wat van die duisternis? Wel, dit is vinnig aan die verdwyn.

10. Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só:

11. die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie - al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom - leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie.

12. Liewe kinders, ek herinner julle weer daaraan: vir God bestaan julle sondes eenvoudig nie meer nie. Daarvoor het Jesus gesorg.

13. Pa’s, julle ken Hom wat alles begin het goed. Daarom is hierdie brief vir julle. Die jongmense kan ook lees wat ek skryf, want hulle het die Bose behoorlik op die neus laat kyk.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 2