Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 1:3-19 Bybel vir Almal (ABA)

3. Naomi se man Elimelek het gesterf, en sy en haar twee seuns het oorgebly.

4. Die seuns het getrou met vroue wat Moabiete was. Die een vrou se naam was Orpa, en die ander vrou se naam was Rut.Naomi en haar twee seuns Maglon en Kiljon het omtrent tien jaar in die land Moab gewoon.

5. Toe het haar seuns ook gesterf, en Naomi het alleen oorgebly. Haar man en haar seuns was dood.

6. Toe hoor Naomi die Here was weer goed vir sy volk, Hy het vir hulle reën gegee, en daar was weer kos in hulle land. Sy en haar twee skoondogters het gereedgemaak om terug te gaan uit die land Moab.

7. Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda.

8. Naomi het vir haar skoondogters gesê: “Julle moet teruggaan na julle ma’s se huise. Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle, soos julle goed was vir my oorlede seuns en vir my.

9. Ek bid dat die Here weer vir julle elkeen ’n man sal gee in wie se huis julle veilig kan woon.”Naomi het hulle gesoen, maar toe begin hulle huil.

10. Hulle het vir haar gesê: “Maar ons wil saam met jou gaan na jou mense toe.”

11. Naomi het gesê: “Nee, my dogters, julle moet teruggaan. Hoekom wil julle saam met my gaan? Ek kan nie nog seuns kry wat julle mans kan word nie.

12. Julle moet teruggaan, my dogters, julle moet gaan, want ek is te oud om weer te trou. En ook, as ek dink ek kan miskien nog kinders kry, en ek slaap vannag by ’n man en ek kry seuns,

13. dan sal julle nie kan wag totdat hulle groot is nie. Julle sal wil trou. Nee, my dogters, die Here laat my swaarkry, die lewe is bitter vir my, meer bitter as vir julle.”

14. Naomi se twee skoondogters het weer begin huil. Orpa het vir Naomi gegroet en sy het gegaan, maar Rut het styf vasgehou aan Naomi.

15. Naomi het vir Rut gesê: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar mense toe en na haar god. Jy moet ook teruggaan, saam met haar.”

16. Maar Rut het vir Naomi gesê: “Jy moenie aanhou sê dat ek jou moet los en moet teruggaan nie, want waar jy gaan, wil ek ook gaan, en waar jy gaan slaap, wil ek ook gaan slaap. Jou volk is ook my volk, en jou God is ook my God.

17. Waar jy sterf, wil ek ook sterf, en daar moet die mense my begrawe. Die Here is my getuie. Net die dood sal ons twee skei van mekaar.”

18. Naomi het toe geweet dat Rut vas besluit het om saam met haar te gaan, en sy het nie weer met Rut daaroor gepraat nie.

19. Naomi en Rut het verder geloop totdat hulle in Betlehem gekom het. Almal in die stad was opgewonde. Die vroue het gevra: “Is dit regtig Naomi?”

Lees volledige hoofstuk Rut 1