Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 1:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dit was in die tyd toe die leiers oor die Israeliete regeer het. Dit was baie droog in die land Juda, en die mense het niks gehad om te eet nie. ’n Man het weggegaan uit die stad Betlehem in die land Juda en hy het in die land Moab gaan woon. Hy was ’n vreemdeling in Moab.

2. Die man se naam was Elimelek, en sy vrou se naam was Naomi, en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle het van Efrat gekom, dit is van Betlehem in Juda. Hulle het in die land Moab gekom en daar gebly.

3. Naomi se man Elimelek het gesterf, en sy en haar twee seuns het oorgebly.

4. Die seuns het getrou met vroue wat Moabiete was. Die een vrou se naam was Orpa, en die ander vrou se naam was Rut.Naomi en haar twee seuns Maglon en Kiljon het omtrent tien jaar in die land Moab gewoon.

5. Toe het haar seuns ook gesterf, en Naomi het alleen oorgebly. Haar man en haar seuns was dood.

6. Toe hoor Naomi die Here was weer goed vir sy volk, Hy het vir hulle reën gegee, en daar was weer kos in hulle land. Sy en haar twee skoondogters het gereedgemaak om terug te gaan uit die land Moab.

7. Sy het weggegaan van die plek waar sy was, en haar twee skoondogters was by haar. Hulle het begin loop om terug te gaan na die land Juda.

8. Naomi het vir haar skoondogters gesê: “Julle moet teruggaan na julle ma’s se huise. Ek bid dat die Here goed sal wees vir julle, soos julle goed was vir my oorlede seuns en vir my.

9. Ek bid dat die Here weer vir julle elkeen ’n man sal gee in wie se huis julle veilig kan woon.”Naomi het hulle gesoen, maar toe begin hulle huil.

10. Hulle het vir haar gesê: “Maar ons wil saam met jou gaan na jou mense toe.”

Lees volledige hoofstuk Rut 1