Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:21-35 Bybel vir Almal (ABA)

21. Jotam het toe weggehardloop en gevlug. Hy het in die stad Beër gaan woon, want hy was bang sy broer Abimelek maak hom dood.

22. In die derde jaar nadat Abimelek oor die Israeliete begin regeer het,

23. het die Here ’n bose gees gestuur om Abimelek en die manne van Sigem vyande van mekaar te maak. Die manne van Sigem het ontrou geword aan Abimelek.

24. Die Here wou Abimelek straf omdat hy sy broers, die 70 seuns van Gideon, vermoor het. Die Here wou ook die manne van Sigem straf omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25. Die manne van Sigem het in die berge gaan lê en wag vir mense wat op die pad verbykom, en dan het hulle die mense se goed gevat. Mense het dit vir Abimelek vertel.

26. Toe het Gaäl seun van Ebed in Sigem aangekom, hy en sy broers. Die manne van Sigem het gedink hy sal hulle kan help.

27. Eendag het Gaäl en sy broers uit die stad gegaan. Hulle het druiwe gepluk en wyn gemaak. Toe het hulle feesgevier. Hulle het in die tempel van hulle god geëet en gedrink en gesê Abimelek beteken niks.

28. Gaäl seun van Ebed het gesê: “Wie is Abimelek? Hoekom moet die mense van Sigem hom dien? Abimelek is die seun van Gideon, en hy en sy goewerneur Sebul het die mense van Sigem gedien toe Sigem se pa Gamor nog gelewe het. Hoekom moet ons nou vir Abimelek dien?

29. Wanneer ek oor hierdie mense regeer, dan sal ek vir Abimelek wegjaag. Ek sê vir Abimelek: Jy kan baie manne saambring, jy kan kom, ek is nie bang nie.”

30. Toe Sebul, die goewerneur van Sigem, hoor wat Gaäl sê, was hy baie kwaad.

31. Abimelek was by die stad Torma, en Sebul het boodskappers na Abimelek toe gestuur. Hulle het vir Abimelek gesê: “Jy moet weet, Gaäl seun van Ebed het na Sigem gekom, hy en sy broers is besig om die mense van die stad opstandig te maak teen jou.

32. Jy moet nou iets doen, jy en jou manne moet vannag kom en julle moet in die veld lê en wag.

33. En môre-oggend wanneer die son opkom, moet julle opstaan en na die stad hardloop. Dan sal Gaäl en sy manne uitkom, en dan kan jy met hom doen wat jy wil.”

34. Abimelek en al sy manne het toe in die nag gekom en hulle het buite Sigem gelê en wag. Hulle was in vier groepe.

35. Toe Gaäl die oggend voor die poort van die stad gaan staan, het Abimelek en die manne wat by hom was, opgestaan.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9