Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 1:5-18 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die son kom op en die son gaan onder, en hy is haastig om weer te kom by die plek waar hy opgekom het.

6. Die wind waai na die suide en dit draai na die noorde, dit draai en draai, die wind waai en dit hou nie op om te draai nie.

7. Al die riviere vloei in die see in, maar die see word nie vol nie. Die riviere vloei altyd na dieselfde plek.

8. Al die woorde wat daar is, is te min, ’n mens kan nie alles sê nie. Die oog kyk en hy hou nooit op om te kyk nie, die oor hoor en hy hou nooit op om te luister nie.

9. Die dinge wat daar was, sal weer daar wees. Mense sal weer die dinge doen wat hulle altyd gedoen het. Daar is niks wat nuut is in hierdie wêreld nie.

10. Wanneer iemand sê: “Kyk, hier is iets wat nuut is,” dan sê ek: Nee, dit was klaar daar voordat óns daar was.

11. Niemand onthou wat lank gelede gebeur het nie, en die mense wat later sal lewe, sal ook nie onthou wat later gebeur het nie.

12. Ek, die Prediker, was koning van Israel in Jerusalem.

13. Ek het hard probeer om met wysheid te kyk na alles wat die mense in hierdie wêreld doen, ek het probeer om dit te ondersoek. Dit is ’n swaar werk wat God vir die mense gegee het om te doen.

14. Ek het gekyk na alles wat die mense in hierdie wêreld doen, en ek het gesien dat niks is soos dit moet wees nie, die mense jaag wind.

15. ’n Mens kan nie iets wat krom is, reguit maak nie, en jy kan nie iets tel wat nie daar is nie.

16. Ek het gedink dat ek baie wysheid gekry het, meer wysheid as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het. Ek het baie wysheid gekry en ek weet baie.

17. Ek het hard probeer om te verstaan wat wysheid is en wat dit is om dinge te ken. Ek het ook probeer verstaan wat dit is om nie wysheid te hê nie en ’n dwaas te wees. Ek weet nou dat almal wind jaag.

18. Want wanneer jy baie wysheid het, dan is jy bekommerd oor baie dinge. As jy baie weet, dan kan dit jou ook baie hartseer maak.

Lees volledige hoofstuk Prediker 1