Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 15:9-25 Bybel vir Almal (ABA)

9. dan moet hy saam met die bul ook ’n koring-offer gee van drie tiendes van ’n efa van die beste meel wat hy meng met ’n halwe hin olyf-olie

10. en hy moet ook ’n halwe hin wyn gee om ’n drank-offer te wees. Dit moet ’n vuur-offer wees wat lekker ruik vir My.

11. Julle moet dit doen saam met elke bul of skaap-ram, elke skaap-lam of bok-lam wat julle offer.

12. Julle moet dit doen saam met elke dier wat julle offer.

13. Elke Israeliet moet dit doen wanneer hy vir My ’n vuur-offer gee wat lekker moet ruik vir My.

14. En wanneer daar by julle of julle nageslag vreemdelinge of ander mense woon, en een van hulle wil vir My ’n vuur-offer gee wat lekker ruik vir My, dan moet hy doen soos julle doen.

15. Die volksvergadering moet altyd dieselfde wet gebruik vir julle en vir die vreemdelinge wat by julle of julle nageslag woon, julle en die vreemdelinge is dieselfde vir My.

16. Julle en die vreemdelinge wat by julle woon, moet almal doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit.”

17. Die Here het vir Moses gesê:

18. “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom waarnatoe Ek julle bring,

19. en julle eet van die kos wat die land vir julle gee, dan moet julle vir My ’n deel van die kos gee.

20. Julle moet vir My ’n rondebrood gee van die eerste deeg wat julle knie. Julle moet dit gee om ’n offer van die dorsvloer te wees.

21. Julle en julle nageslag moet altyd vir My ’n offer gee van die eerste deeg wat julle knie.”

22. Die Here het ook vir Moses gesê: “Wat moet julle doen wanneer julle ’n fout maak en julle doen nie alles wat Ek vir Moses gesê het nie?

23. Ek het vir Moses gesê om alles vir julle te sê, en dit bly waar van die dag toe Ek dit gesê het tot die tyd van julle nageslag.

24. Wanneer julle ’n fout gemaak het, maar die volksvergadering het nie geweet dat dit ’n fout is nie, dan moet die hele vergadering ’n bul gee om ’n brand-offer te wees wat vir My lekker ruik. Hulle moet dit gee saam met die koring-offer en die drank-offer wat hulle saam met die brand-offer moet bring, en ook ’n bok-ram om ’n sonde-offer te wees.

25. Die priester doen dan versoening vir die hele vergadering van die Israeliete, en Ek sal hulle vergewe, want dit was ’n fout, maar hulle het hulle offers gegee, die vuur-offer vir My, en ook die sonde-offer vir die fout wat hulle gemaak het.

Lees volledige hoofstuk Numeri 15