Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:6-21 Bybel vir Almal (ABA)

6. Ons het aangehou om die muur te bou. Die muur was die helfte so hoog soos hy moes wees, en die mense het fluks gewerk.

7. Sanballat en Tobija en die Arabiere en die Ammoniete en die mense van Asdod het baie kwaad geword toe hulle hoor dat die Judeërs die muur regmaak en dat dit goed gaan met die werk. Hulle het gehoor dat amper al die stukkende plekke in die muur weer reg is.

8. Hulle het saam planne gemaak om oorlog te maak teen Jerusalem en om alles in die stad deurmekaar te maak.

9. Ons het gebid tot ons God en ons het elke dag en nag mense laat wagstaan om te kyk of ons vyande kom.

10. Die Judeërs het gesê: “Die mense wat die klippe moet dra, word moeg, en daar is groot hope grond wat hulle moet wegdra. Ons sal nie die muur klaar kan bou nie.”

11. Ons vyande het vir mekaar gesê: “Ons sal tussen die Judeërs wees en ons sal hulle doodmaak voordat hulle iets sal weet of sal sien. Dan sal die werk kan ophou.”

12. Party Judeërs wat naby ons vyande gewoon het, het vir ons tien maal kom sê dat ons vyande van al die kante kom om ons aan te val.

13. Ek het toe vir die mense gesê hulle moet gereedstaan agter die muur op die gelyk plekke, elke familie moet swaarde, spiese en pyl en boë hê.

14. Ek het vir die belangrike mense, die leiers en die ander mense, gesê: “Julle moenie bang wees vir die vyande nie, julle moet onthou dat die Here by ons is. Hy is groot, en almal moet bang wees vir Hom. Julle moet veg vir julle broers, vir julle seuns, vir julle dogters, vir julle vroue en julle huise.”

15. Ons vyande het gehoor dat ons weet van hulle planne en dat ons weet dat God hulle planne laat misluk het. Ons het toe almal teruggegaan na die muur, elkeen het sy werk daar gaan doen.

16. Van daardie dag af het die helfte van my manne gewerk en die ander helfte het gereedgestaan met spiese, skilde, pyl en boë, en harnasse. Die offisiere het gestaan agter al die mense van Juda

17. wat die muur gebou het. En die mense wat die klippe moes dra, het klippe gedra met die een hand, en in hulle ander hand het hulle ’n wapen gedra.

18. Die manne wat gebou het, het hulle swaarde teen hulle heupe vasgebind, en die man wat die ramshoring moes blaas, was langs my.

19. Ek het vir die belangrike mense, vir die leiers en die ander mense, gesê: “Ons werk ver van mekaar op die muur.

20. Wanneer julle hoor dat die ramshoring blaas, dan moet julle almal bymekaarkom by ons. Ons God sal vir ons veg.”

21. So het ons gewerk terwyl die helfte van ons die spiese gereedgehou het. Ons het gewerk vandat dit lig geword het in die oggend totdat die sterre in die aand uitgekom het.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4