hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 1 Bybel vir Almal (ABA)

Nehemia bid tot die Here

1. Hierdie is die dinge wat Nehemia gesê en gedoen het. Nehemia was ’n seun van Gakalja.Dit was in die maand Kislef in die twintigste jaar. Ek was in die stad Susan, ’n stad wat sterk mure het.

2. Een van my broers, Ganani, het daar aangekom, hy en ander manne uit die land Juda. Ek het vir hulle gevra hoe dit gaan met die Judeërs wat nog lewe en wat voorheen gevangenes in Babel was maar wat teruggegaan het na Jerusalem. Ek het ook vir hulle gevra hoe die stad Jerusalem nou lyk.

3. Hulle het vir my gesê: “Dit gaan baie sleg met die mense wat nog lewe en wat teruggegaan het uit Babel waar hulle gevangenes was. Vyande het die muur van Jerusalem afgebreek en sy poorte verbrand.”

4. Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Ek het ’n paar dae lank gehuil en getreur, ek het niks geëet nie en ek het gebid tot die God van die hemel.

5. Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, U is die Groot God, almal is bang vir U. U doen wat u verbond sê en U doen wat U belowe het vir almal wat lief is vir U en wat doen wat U wil hê.

6. Luister asseblief wat ek bid en kyk na my, u dienaar. Ek bid nou elke dag en elke nag vir u dienaars, die mense van Israel. Ek bely dat die Israeliete sonde gedoen het teen U. Ek en my familie het ook sonde gedoen.

7. Ons het baie verkeerde dinge gedoen teen U. Ons het nie gedoen wat U wil hê nie, ons het nie gedoen wat U vir u dienaar Moses gesê het nie.

8. U moet onthou dat U vir u dienaar Moses gesê het: ‘As julle ontrou is, dan sal Ek julle na al die kante toe jaag tussen die ander volke,

9. maar as julle terugkom na My toe en as julle doen wat Ek wil hê en wat Ek vir julle gesê het, dan sal Ek julle mense weer bymekaarmaak, die mense wat Ek na al die kante toe gejaag het. Ek sal dit doen ook as hulle in baie ver lande is, en Ek sal hulle bring na die plek wat Ek gekies het om self daar te woon.’

10. Here, hulle is u dienaars, u volk, U het hulle vrygemaak met u groot krag.

11. Ag, Here, luister asseblief wat ek bid, ek is u dienaar. Luister asseblief ook wat u dienaars bid, hulle wil graag vir U respekteer en dien. Laat dit wat ek vandag wil doen, slaag. Laat die koning doen wat ek vir hom vra.”Ek was die koning se skinker.