Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:16-26 Bybel vir Almal (ABA)

16. Die volk het vir Josua gesê: “Ons wil glad nie die Here los en ander gode dien nie,

17. want die Here is ons God. Dit is Hý wat ons en ons voorvaders uit Egipte gebring het, Hy het ons gebring uit die plek waar ons slawe was. Ons het die groot wonderwerke gesien wat Hy gedoen het. Hy het ons beskerm op die hele pad waar ons geloop het, Hy het ons beskerm teen die volke van al die lande waar ons gegaan het.

18. Die Here het al die volke weggejaag om plek te maak vir ons, Hy het ook die Amoriete weggejaag wat in die land gewoon het. Ons sal ook die Here dien, want Hý is ons God.”

19. Toe sê Josua vir die volk: “Julle kan nie die Here dien nie, want Hy is ’n heilige God, Hy wil hê julle moet net vir Hom dien. Hy sal julle nie vergewe as julle opstandig is en sonde doen nie.

20. As julle die Here los en as julle gode van ander volke dien, dan sal Hy dit sleg laat gaan met julle en Hy sal julle almal laat sterf, Hy wat voorheen goed gedoen het aan julle.”

21. Die volk het toe vir Josua gesê: “Nee, ons sal net die Here dien.”

22. Josua het vir die volk gesê: “Dan is julle getuies teen julleself dat júlle gekies het om die Here te dien.”En hulle het gesê: “Ja, ons is.”

23. Josua sê toe: “Dan moet julle nou die ander volke se gode los en julle moet heeltemal aan die Here behoort, julle moet behoort aan die God van Israel.”

24. Die volk het geantwoord en gesê: “Ons sal net ons God die Here dien en ons sal net aan Hom gehoorsaam wees.”

25. Josua het daardie dag ’n verbond gemaak met die volk. Hy het daar by die stad Sigem vir hulle reëls en wette gegee.

26. Hy het dit opgeskryf in die Wetboek van God. Hy het ’n groot klip geneem en hy het dit daar regop gesit onder die groot boom by die tempel van die Here.

Lees volledige hoofstuk Josua 24