Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:5-19 Bybel vir Almal (ABA)

5. Al daardie konings het bymekaargekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die Merom-rivier, hulle wou oorlog maak teen die Israeliete.

6. Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want môre hierdie selfde tyd sal Ek die Israeliete laat wen teen hulle. Hulle sal almal sterf in die oorlog. Jy moet hulle perde se hakskene sny en jy moet hulle oorlogkarre verbrand.”

7. Josua en al die soldate by hom het die vyande gesien by die Merom-rivier en hulle het die vyande aangeval. Die vyande het dit nog nie verwag nie.

8. Die Here het die Israeliete laat wen teen die vyande. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die vyande gevolg en gejaag tot by die stad Groot-Sidon en tot by die stad Misrefot-Majim en tot by die Mispe-vallei in die ooste. Die Israeliete het al die vyande doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie.

9. Josua het met die vyande gedoen soos die Here vir hom gesê het. Hy het hulle perde se hakskene gesny en hy het hulle oorlogkarre verbrand.

10. Josua het toe na die stad Hasor gegaan. Hy het die stad oorwin en hy het die koning doodgemaak, want Hasor was voorheen die belangrikste stad van al die stede wat konings gehad het.

11. Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het gesê daardie mense is gewy aan die Here, nie een het aangehou lewe nie, en toe het hy die stad verbrand.

12. Josua het al die stede van daardie konings oorwin, en hy het die konings en die mense almal doodgemaak, hy het gedoen soos Moses, die dienaar van die Here, gesê het.

13. Maar die Israeliete het nie die stede verbrand wat op heuwels gestaan het nie, Josua het net die stad Hasor verbrand.

14. Die Israeliete het al die goed in die stede en al die diere vir hulleself gevat, maar hulle het al die mense doodgemaak, hulle het niemand laat aanhou lewe nie.

15. Die Here het voorheen vir Moses gesê wat hy moet doen, en Moses het vir Josua gesê om dit te doen. Josua het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het.

16. Josua het hierdie hele land gevat, die berge en die hele Suid-land en die hele land Gosen en die Laeveld en die Jordaan-vallei en die Israel-berge en die Laeveld daar naby.

17. Dit was die land van die Galak-berg naby die land Seïr tot by die stad Baäl-Gad in die Libanon-vallei suid van Hermon-berg. Josua het al die konings oorwin en hy het hulle doodgemaak.

18. Josua het lank oorlog gemaak teen al daardie konings.

19. Die mense in die stede het nie vrede gemaak met Josua nie. Die Israeliete het al die stede oorwin in die oorlog. Net die Hewiete in die stad Gibeon het vrede gemaak met die Israeliete.

Lees volledige hoofstuk Josua 11