Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Jabin van Hasor het gehoor wat gebeur het. Hy stuur toe boodskappe na koning Jobab van die stad Madon, en na die konings van die stede Simron en Aksaf,

2. die konings in die noordelike bergland, die konings in die Jordaan-vallei suid van die Gennesaret-meer, die konings in die Laeveld en in die westelike berge van die land Dor,

3. die konings van die Kanaäniete in die ooste en die weste, die konings van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berge, en die Hewiete onderkant Hermon-berg in die land Mispe.

4. Die konings het almal hulle leërs gebring, dit was baie mense, so baie soos die sand langs die see. Hulle het ook baie perde en oorlogkarre gehad, dit was baie.

5. Al daardie konings het bymekaargekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die Merom-rivier, hulle wou oorlog maak teen die Israeliete.

6. Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want môre hierdie selfde tyd sal Ek die Israeliete laat wen teen hulle. Hulle sal almal sterf in die oorlog. Jy moet hulle perde se hakskene sny en jy moet hulle oorlogkarre verbrand.”

7. Josua en al die soldate by hom het die vyande gesien by die Merom-rivier en hulle het die vyande aangeval. Die vyande het dit nog nie verwag nie.

8. Die Here het die Israeliete laat wen teen die vyande. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die vyande gevolg en gejaag tot by die stad Groot-Sidon en tot by die stad Misrefot-Majim en tot by die Mispe-vallei in die ooste. Die Israeliete het al die vyande doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie.

9. Josua het met die vyande gedoen soos die Here vir hom gesê het. Hy het hulle perde se hakskene gesny en hy het hulle oorlogkarre verbrand.

10. Josua het toe na die stad Hasor gegaan. Hy het die stad oorwin en hy het die koning doodgemaak, want Hasor was voorheen die belangrikste stad van al die stede wat konings gehad het.

Lees volledige hoofstuk Josua 11