hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Jona 4 Bybel vir Almal (ABA)

Jona is kwaad omdat God genadig is

1. Jona was baie ontevrede. Hy het kwaad geword

2. en tot die Here gebid en gesê: “Here, toe ek nog in my land was, het ek geweet dit sal gebeur. Daarom wou ek dadelik na Tarsis vlug. Ek het geweet U is ’n God wat genadig is, U is goed vir mense wat swaarkry. U is geduldig en U is vol liefde. U vergewe mense se sonde maklik.

3. Daarom, Here, laat my sterf. Ek wil nie lewe nie.”

4. Die Here het gesê: “Dink jy dit is reg om so kwaad te word?”

Die plant wat skaduwee gegee het

5. Jona het uit die stad geloop en hy het oos van die stad gaan sit. Hy het vir hom ’n afdak gemaak en in die skaduwee gaan sit. Hy wou sien wat met die stad gebeur.

6. Die Here het ’n plant laat groei, en die plant het skaduwee gemaak oor Jona se kop. Die son het hom nie gebrand nie. Jona was baie bly oor die plant.

7. Maar toe dit lig word die volgende oggend, het God ’n wurm gestuur, en die wurm het die plant begin vreet. Die plant het toe doodgegaan.

8. Toe die son opkom, het God ook ’n warm oostewind laat waai, en die son het Jona se kop gebrand. Jona het amper flou geword en hy het gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Ek wil sterf, ek wil nie lewe nie.”

9. God het vir Jona gevra: “Dink jy dit is reg om kwaad te word oor die plant?”En Jona het gesê: “Ja, dit is reg! Ek is so kwaad dat ek kan sterf!”

10. Die Here het vir Jona gesê: “Jy is bekommerd oor die plant, maar jy het dit nie geplant nie, jy het nie gewerk om dit te laat groei nie. Jy het nie die plant opgepas nie. Die plant het in die nag begin groei en dit het in die nag doodgegaan.

11. Maar jy sê Ek mag nie bekommerd wees oor die stad Nineve nie. Dit is ’n groot stad, daar is meer as 120 000 mense in die stad. Hulle weet nie wat is reg en wat is verkeerd nie. Daar is ook baie diere in die stad. Mag Ek nie oor hulle bekommerd wees nie?”