Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 36:9-18 Bybel vir Almal (ABA)

9. Jy kan nie ’n oorlog wen teen een goewerneur nie, teen een van die onbelangrikste amptenare van my koning nie. Maar nou dink jy Egipte kan jou help. Jy dink Egipte kan vir jou oorlogkarre en perde gee.

10. Jy moet ook weet dit is nie ék wat besluit het om hierdie land te verwoes nie. Dit is die Here wat vir my gesê het: ‘Jy moet daardie land gaan verwoes.’ ”

11. Eljakim en Sebna en Joag het vir die hoof-offisier gesê: “Jy moet asseblief Aramees praat met ons, dit is ’n taal wat ons verstaan. Jy moenie met ons Judees praat nie, want ons wil nie hê dat die mense op die muur moet verstaan wat jy sê nie.”

12. Die hoof-offisier het gesê: “My koning het my nie gestuur om hierdie boodskap net vir julle koning en vir julle te bring nie. Ek moet die boodskap ook bring vir hierdie mense wat op die muur sit. Hulle sal hulle eie mis moet eet en hulle eie urine moet drink, en julle sal dit ook moet doen.”

13. Toe gaan staan die hoof-offisier by die muur. Hy het Judees gepraat en hard gesê: “Julle moet hoor wat sê die groot koning, die koning van Assirië.

14. Die koning sê julle moenie dat Hiskia julle bedrieg nie. Hiskia kan julle nie red nie.

15. Hiskia sê julle moet glo dat die Here julle sal red, hy sê die koning van Assirië sal nie hierdie stad oorwin nie, dit is seker. Maar julle moenie vir Hiskia glo nie.

16. Julle moenie na hom luister nie, want die koning van Assirië sê: ‘Julle moet vrede maak met my en julle moet na my toe kom. Dan kan julle elkeen eers op sy eie grond bly en elkeen kan sy eie druiwe en vye eet en water drink uit sy eie put.

17. Later sal ek kom en ek sal julle wegvat na ’n land wat soos julle land is, ’n land waar daar koring en wyn is, ’n land waar daar kos en wingerde is.’

18. Julle moet oppas dat Hiskia julle nie bedrieg nie. Hy sê die Here sal julle red, maar ek vra vir julle: Kon die gode van die ander volke hulle lande beskerm teen die koning van Assirië? Nee.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 36