Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:4-16 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die amptenare het vir die koning gesê: “Asseblief, hierdie man moet sterf, want hy sê hierdie dinge en dit maak die manne moedeloos wat oorgebly het in die stad. Hy maak ook al die ander mense moedeloos. Hy wil nie hê dit moet goed gaan met hierdie mense nie, hy wil hê dit moet sleg gaan.”

5. Koning Sedekia het gesê: “Julle mag met Jeremia doen wat julle wil, ek kan julle nie stop nie.”

6. Toe het die amptenare vir Jeremia gevat en hulle het hom met toue in ’n put laat afsak. Die put het behoort aan Malkihu, die seun van die koning. Daar was nie water in die put nie, daar was modder, en Jeremia het in die modder ingesak.

7. Die Kussiet Ebed-Melek, ’n paleisbediende, het gehoor dat hulle vir Jeremia in die put gesit het. Die koning het in die Benjamin-poort gesit,

8. en Ebed-Melek het uit die paleis gegaan en vir die koning gaan sê:

9. “Meneer die koning, hierdie manne het ’n slegte ding gedoen met Jeremia. Hulle het hom in ’n put gegooi sodat hy daar van honger moet sterf, want daar is nie meer kos in die stad nie.”

10. Toe het die koning vir die Kussiet Ebed-Melek gesê: “Jy moet gaan en jy moet drie manne saam met jou neem. Julle moet vir Jeremia uit die put optrek voordat hy sterf.”

11. Ebed-Melek het die manne saamgeneem en hulle het ou, stukkende klere uit die stoorkamer van die paleis gevat. Hy het dit met toue laat afsak na Jeremia in die put.

12. Hy het vir Jeremia gesê: “Jy moet die lappe onder jou arms sit sodat die toue jou arms nie seermaak nie.”

13. Jeremia het dit gedoen, en hulle het hom met die toue uit die put opgetrek. Hy het in die binneplaas van die wagte gebly.

14. Koning Sedekia het die profeet Jeremia laat haal om na hom toe te kom. Die koning was in die derde ingang na die tempel. Hy het vir Jeremia gesê: “Ek wil vir jou iets vra, en jy moet alles vir my vertel.”

15. Jeremia het vir Sedekia gesê: “As ek alles vir jou vertel, dan sal jy my doodmaak, dit is seker. En as ek vir jou sê wat om te doen, dan sal jy nie na my luister nie.”

16. Koning Sedekia het met Jeremia gepraat waar niemand anders dit kon hoor nie, en hy het vir Jeremia belowe: “So seker soos die Here lewe wat vir ons die lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie, en ek sal jou nie vir die manne gee wat jou wil doodmaak nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38