Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 17:19-27 Bybel vir Almal (ABA)

19. Die Here het vir my, Jeremia, gesê: “Jy moet in die Volkspoort gaan staan waar die konings van Juda ingaan en uitgaan. Jy moet ook in al die ander poorte van Jerusalem gaan staan,

20. en jy moet vir die mense sê: Konings van Juda en al die mense van Juda, en almal wat in Jerusalem woon en wat deur hierdie poorte gaan, julle moet luister na wat die Here sê.

21. Die Here sê: Julle moet oppas. As julle wil aanhou lewe, dan moet julle nie op die Sabbatdag iets dra en dit deur die poorte van Jerusalem bring nie.

22. Julle moenie op die Sabbatdag iets uit julle huise bring of enige werk doen nie. Die Sabbatdag moet vir julle ’n gewyde dag wees, soos Ek vir julle voorvaders gesê het.

23. Julle voorvaders was ongehoorsaam, hulle het nie geluister nie, hulle was hardkoppig en hulle het nie gedoen wat Ek vir hulle gesê het nie.

24. Julle moet nou goed luister. Julle moenie op die Sabbatdag iets dra deur die poorte van hierdie stad nie en julle moenie op die Sabbatdag werk nie. Dit moet ’n gewyde dag vir julle wees.

25. As julle gehoorsaam is, dan sal daar deur hierdie poorte konings en prinse kom wat sal regeer op die troon van Dawid. Hulle sal op oorlogkarre en perde ry, hulle en hulle amptenare en die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon. Daar sal altyd mense in hierdie stad woon.

26. Hulle sal kom uit die stede van Juda, uit die plekke naby Jerusalem, uit die land Benjamin, uit die Laeveld, uit die Bergland en uit die Suid-land. Hulle sal offers na die tempel bring: brand-offers en koring-offers en wierook-offers, en hulle sal sing en vir die Here dankie sê.

27. Maar as hulle nie gehoorsaam is aan My nie en as hulle op die Sabbatdag iets dra deur die poorte van Jerusalem, dan sal Ek die stad aan die brand steek. Die mooi huise van Jerusalem sal verbrand, en die vuur sal aanhou brand.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 17