hoofstukke

  1. 1
  2. 2

Ou Testament

Nuwe Testament

Haggai 2 Bybel vir Almal (ABA)

In hierdie tempel sal dit goed gaan

1. Op die 21ste dag van die sewende maand het die Here weer die profeet Haggai gestuur om vir hulle ’n boodskap te bring.

2. Die Here het gesê: “Sê vir Serubbabel en vir Jesua en vir al die ander mense wat nog lewe:

3. Wie van julle wat nog lewe, het voorheen my tempel gesien toe dit so mooi was? Hoe lyk hierdie tempel nou vir julle? Nie mooi nie!

4. Maar Ek, die Here, sê: Julle moet sterk wees. Serubbabel en Jesua en al die mense van die land, julle moet sterk wees en werk, want Ek is by julle.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.

5. “Toe julle weggegaan het uit Egipte, het Ek belowe dat Ek julle sal help. Ek het my belofte nie vergeet nie. Moenie bang wees nie, Ek is by julle.”

6. Ja, die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek sal nog een maal die hemel en die aarde, die see en die land, skud. Ek sal dit gou doen.

7. Dan sal al die volke hulle mooi en duur goed bring en hulle sal die tempel daarmee volmaak.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.

8. “Al die silwer en al die goud is Myne,” sê die Here wat oor alles regeer.

9. “Hierdie tempel sal mooier wees as die tempel wat voorheen hier was.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.“In hierdie tempel sal dit goed gaan,” sê die Here wat oor alles regeer.

Van vandag af sal Ek julle seën

10. Op die 24ste dag van die negende maand, in die tweede jaar nadat Darius koning geword het, het die Here met die profeet Haggai gepraat.

11. Die Here wat oor alles regeer, het gesê: “Vra vir die priesters:

12. Wanneer iemand gewyde vleis in sy klere dra en sy klere raak dan aan brood of aan gekookte kos of wyn of olie of enige ander kos, sal daardie kos dan ook gewy wees? Wat sê die wet?”Die priesters het geantwoord: “Nee, die kos sal nie gewy wees nie.”

13. Toe vra Haggai: “Wanneer iemand aan ’n lyk raak en hy word onrein, en hy raak dan aan hierdie kos, sal die kos ook onrein word?”En die priesters het geantwoord: “Ja, die kos sal onrein word.”

14. Toe sê Haggai: “Die Here sê: So is hierdie volk, so is hierdie mense voor My. En so is alles wat julle doen. Alles wat julle na die tempel bring om te offer, is onrein.

15. Julle moet kyk wat nou met julle sal gebeur. Voordat julle begin het om hierdie tempel weer te bou,

16. het julle swaargekry.“Wanneer iemand by ’n hoop koring gekom het en gedink het daar is 20 kruike vol koring, dan was daar net tien. Wanneer hy by ’n parskuip gekom het en gedink het daar is 50 kruike vol wyn, dan was daar net 20.

17. Hoekom? Ek het julle gestraf, Ek het julle koring siek laat word. Ek het hael gestuur om julle koring en alles wat julle geplant het, stukkend te slaan. Maar julle het nie gevra dat Ek julle moet help nie,” sê die Here.

18. “Vandag is die 24ste dag van die negende maand, en julle het nou die fondament van die Here se tempel klaar gebou. Julle moet kyk wat van nou af sal gebeur.

19. Is daar nog saad in julle stoorkamers? Nee. Daar was niks vrugte aan julle wingerdstokke, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie. Maar van vandag af sal Ek julle seën.”

Serubbabel sal soos ’n seëlring wees

20. Die Here het weer met Haggai gepraat op die 24ste dag van die maand en vir hom gesê:

21. “Sê vir Serubbabel, die goewerneur van Juda: Ek sal die hemel en die aarde skud.

22. Konings sal van hulle trone moet afklim. Ek sal hulle swak maak en Ek sal die oorlogkarre omgooi en die soldate doodmaak wat op hulle ry. Die perde en die manne wat op hulle ry, sal sterf. Die manne sal mekaar doodmaak.

23. “Die Here wat oor alles regeer, sê: Daardie dag sal jy, my dienaar Serubbabel, vir My soos ’n seëlring wees, want Ek het jou gekies om koning te word.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.