Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 47:3-15 Bybel vir Almal (ABA)

3. Die farao het vir hulle gevra: “Watter soort werk doen julle?”Hulle het geantwoord: “Ons is veeboere, ons en ons voorvaders voor ons.”

4. Hulle het ook vir die farao gesê: “Mag ons vreemdelinge word in jou land? Want in Kanaän is daar nie meer gras vir ons skape en bokke nie. Daar is baie min kos. Mag ons asseblief in Gosen woon?”

5. Die farao het vir Josef gesê: “Jou pa en jou broers het na jou toe gekom.

6. Hulle mag enige plek in Egipte woon. Kies die beste deel van die land vir jou pa en jou broers. Hulle mag in Gosen woon. As hulle goeie skaapwagters is, dan moet jy vir hulle sê om my skape ook op te pas.”

7. Josef het sy pa gebring om die farao te ontmoet. Jakob het die farao gegroet en gesê hy hoop dit sal goed gaan met die farao.

8. Die farao vra toe vir Jakob: “Hoe oud is jy?”

9. Jakob het vir die farao gesê: “Ek is 130 jaar oud. Die Here het gesê dit is hoeveel jaar ek hier op die aarde mag woon. My voorvaders het ouer geword, maar ek het baie swaar gekry.”

10. Jakob het toe vir die farao gegroet en hy het weggegaan.

11. Josef het vir sy pa en sy broers die beste deel van Egipte gegee om in te woon, soos die farao gesê het. Dit was by die stad Rameses en dit het hulle eie grond geword.

12. Josef het vir sy pa en sy broers en hulle kinders, vir sy hele familie, kos gegee.

13. Daar was baie min kos in die hele land, die hongersnood was baie swaar. Al die mense in Egipte en Kanaän het honger gely.

14. Josef het koring aan die mense van Egipte en Kanaän verkoop, en hy het al die geld gekry wat die mense gehad het. Hy het die geld na die farao se huis geneem.

15. Toe daar nie meer geld oor was in Egipte en Kanaän nie, het die mense van Egipte na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Gee asseblief vir ons kos. Ons het nie meer geld nie. As Meneer nie vir ons kos gee nie, dan sal ons hier by jou sterf.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 47