Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 45:14-23 Bybel vir Almal (ABA)

14. Toe sit Josef sy arms om sy broer Benjamin se nek en hy huil. Benjamin het ook vir Josef omhels en gehuil.

15. Josef het al sy broers gesoen en hy het by hulle gestaan en huil. Daarna het sy broers met hom gepraat.

16. Die mense in die farao se huis het hiervan gehoor en gesê: “Josef se broers het hiernatoe gekom.”Die farao en sy amptenare was bly daaroor.

17. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers hulle moet in Egipte kom woon. Hulle moet hulle goed op hulle donkies laai. Hulle moet kos saamneem en eers teruggaan na Kanaän.

18. Hulle moet hulle pa en hulle families gaan haal en dan na my toe kom. Ek sal vir hulle die beste plek in Egipte gee, en hulle sal hier lekker kan lewe.

19. Jou broers moet waens uit Egipte saamneem vir hulle kinders en vroue. Hulle pa moet ook daarop ry en hiernatoe kom.

20. Hulle moenie hartseer wees oor hulle goed wat daar sal agterbly nie, want hier sal hulle die beste kry wat hier in Egipte is.”

21. Die seuns van Jakob het toe gedoen wat die farao gesê het. Josef het vir hulle waens gegee soos die farao gesê het, en ook padkos.

22. Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy 300 stukke silwer en vyf maal meer klere gegee.

23. Josef het tien donkies vir sy pa gestuur waarop hulle die beste goed van Egipte gelaai het, en ook tien donkie-merries met koring en brood en kos. Dit was padkos vir sy pa.

Lees volledige hoofstuk Genesis 45