Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:21-33 Bybel vir Almal (ABA)

21. Hulle het die vet koeie ingesluk, maar ’n mens kon nie sien dat hulle die vet koeie opgevreet het nie, want hulle was so maer soos voorheen. Toe het ek wakker geword.

22. “Daarna het ek gedroom daar is ’n koringplant, en daar groei sewe koring-are uit die plant. Die koring-are was mooi en vol.

23. Ná hulle het daar ook sewe droë, maer koring-are uitgekom. Die warm oostewind het hulle droog gewaai.

24. Die sewe maer koring-are sluk toe die sewe mooi koring-are in.“Ek het dit vertel vir die waarsêers, maar niemand kon vir my sê wat my drome beteken nie.”

25. Josef het vir die farao gesê: “Die twee drome wat jy gehad het, beteken dieselfde. God het vir jou gesê wat Hy wil doen.

26. Die sewe mooi koeie beteken sewe mooi jare, en die sewe mooi koring-are beteken ook sewe mooi jare en genoeg kos. Die drome beteken dieselfde.

27. Die sewe maer, lelike koeie wat ná hulle uitgekom het, beteken sewe jare, en die sewe maer koring-are beteken ook sewe jare. Die warm oostewind het die koring-are droog gewaai. Daar sal sewe jaar lank hongersnood wees.

28. Dit is wat ek vir jou moet sê: God het vir jou gewys wat Hy gaan doen.

29. Daar sal nou sewe jaar lank baie kos in die hele Egipte wees, meer as genoeg.

30. Daarna sal daar sewe jaar lank hongersnood wees. Die mense sal vergeet hoe baie kos daar was. Die mense en die land sal arm word.

31. Die mense sal nie meer kan onthou van die baie kos wat daar was nie, omdat dit dan so sleg sal gaan.

32. Die droom het twee maal na jou toe gekom, want God het dit klaar besluit en Hy sal nie lank wag om dit te doen nie.”

33. Josef het gesê: “Jy moet nou ’n slim man kies en hom die hoof oor die mense van Egipte maak.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41