Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 41:17-28 Bybel vir Almal (ABA)

17. Die farao sê toe vir Josef: “Ek het gedroom ek staan op die wal van die Nyl-rivier.

18. Toe kom daar uit die rivier sewe vet, mooi koeie en hulle wei tussen die riete.

19. Daarna het daar sewe ander koeie uitgekom na hulle toe. Hulle was baie lelik en maer. Ek het nog nooit leliker koeie in Egipte gesien nie.

20. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe vet koeie op.

21. Hulle het die vet koeie ingesluk, maar ’n mens kon nie sien dat hulle die vet koeie opgevreet het nie, want hulle was so maer soos voorheen. Toe het ek wakker geword.

22. “Daarna het ek gedroom daar is ’n koringplant, en daar groei sewe koring-are uit die plant. Die koring-are was mooi en vol.

23. Ná hulle het daar ook sewe droë, maer koring-are uitgekom. Die warm oostewind het hulle droog gewaai.

24. Die sewe maer koring-are sluk toe die sewe mooi koring-are in.“Ek het dit vertel vir die waarsêers, maar niemand kon vir my sê wat my drome beteken nie.”

25. Josef het vir die farao gesê: “Die twee drome wat jy gehad het, beteken dieselfde. God het vir jou gesê wat Hy wil doen.

26. Die sewe mooi koeie beteken sewe mooi jare, en die sewe mooi koring-are beteken ook sewe mooi jare en genoeg kos. Die drome beteken dieselfde.

27. Die sewe maer, lelike koeie wat ná hulle uitgekom het, beteken sewe jare, en die sewe maer koring-are beteken ook sewe jare. Die warm oostewind het die koring-are droog gewaai. Daar sal sewe jaar lank hongersnood wees.

28. Dit is wat ek vir jou moet sê: God het vir jou gewys wat Hy gaan doen.

Lees volledige hoofstuk Genesis 41