Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 40:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ná ’n tyd het ’n skinker en ’n bakker van die farao van Egipte iets teen die farao gedoen wat verkeerd was.

2. Die farao was baie kwaad vir hierdie twee amptenare. Hulle was die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers.

3. Die farao het hulle laat toesluit in die huis van die hoof van die wagte wat hom opgepas het. Dit was dieselfde plek waar Josef ’n gevangene was.

4. Die hoof van die farao se wagte het Josef gekies en aangestel om ook vir die skinker en die bakker kos te bedien. Hulle was lank in die tronk.

5. Een nag het die skinker en die bakker gedroom. Elkeen se droom het iets beteken.

6. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, het hy gesien dat hulle bekommerd is.

7. Hy vra toe vir die amptenare: “Hoekom lyk julle vandag so bekommerd?”

8. Hulle het vir hom gesê: “Ons altwee het gedroom, en daar is niemand wat vir ons kan sê wat ons drome beteken nie.”Josef het vir hulle gesê: “Net God kan sê wat drome beteken. Vertel vir my wat julle gedroom het.”

9. Die hoof van die skinkers vertel toe sy droom vir Josef en hy sê: “Ek het gedroom ek sien ’n wingerdstok voor my.

10. Daar was drie ranke aan die wingerdstok. Daar het knoppies op die ranke gekom, dit het bloeisels geword en baie gou was daar trosse ryp druiwekorrels.

11. Ek het die farao se beker in my hand gehou, en ek het van die druiwe geneem en dit uitgedruk in die farao se beker. Toe het ek die beker vir die farao gegee.”

12. Josef sê toe vir hom: “Ek sal vir jou sê wat jou droom beteken: Die drie ranke beteken drie dae.

13. Oor drie dae sal die farao aan jou dink en hy sal jou werk vir jou teruggee. Jy sal weer die farao se wyn skink en sy beker vir hom gee soos voorheen toe jy sy skinker was.

14. Maar jy moet aan my dink wanneer dit goed gaan met jou. Jy moet asseblief iets doen om my te help. Vertel vir die farao van my, sodat hy my uit hierdie tronk kan laat haal.

Lees volledige hoofstuk Genesis 40