Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:20-36 Bybel vir Almal (ABA)

20. Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan vir ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien dat al sy drome niks beteken het nie.”

21. Maar Ruben het dit gehoor en hy wou vir Josef red. Hy sê toe: “Nee, ons moenie hom doodmaak nie.

22. Moenie bloed laat vloei nie. Gooi hom in hierdie put in die veld, maar moenie hom doodmaak nie.”Ruben het dit gesê sodat hy later vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon laat teruggaan.

23. Toe Josef by sy broers kom, het hulle sy lang rok uitgetrek, die lang rok met moue.

24. Hulle vat hom toe en gooi hom in die put. Die put was leeg, daar was nie water in nie.

25. Hulle gaan sit toe om te eet, en toe hulle kyk, sien hulle ’n klomp Ismaeliete wat uit Gilead kom. Hulle was handelaars en daar was boomgom, balsem en hars op hulle kamele. Hulle wou dit na Egipte neem om te verkoop.

26. Juda sê toe vir sy broers: “Ons sal niks kry as ons ons broer Josef doodmaak en daaroor stilbly nie.

27. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie hom doodmaak nie. Onthou, hy is ons eie broer.”Juda se broers het toe na hom geluister.

28. Toe die handelaars van Midian verbykom, het Josef se broers hom uit die put opgetrek en hulle het hom aan die Ismaeliete verkoop vir 20 stukke silwer. Die handelaars het vir Josef saamgeneem na Egipte.

29. Toe Ruben terugkom by die put en sien dat Josef nie meer in die put is nie, was hy baie hartseer. Hy het sy klere geskeur.

30. Hy het teruggegaan na sy broers toe en hy het vir hulle gesê: “Die kind is nie meer daar nie. Wat moet ek nou doen?”

31. Die broers slag toe ’n bok en hulle vat Josef se lang rok en smeer dit vol bloed.

32. Toe stuur hulle sy rok na hulle pa toe en hulle laat weet vir hom: “Ons het hierdie rok opgetel. Kyk of dit miskien jou seun Josef se rok is.”

33. Jakob het daarna gekyk en gesê: “Dit is my seun se rok. ’n Wilde dier het hom doodgemaak en opgevreet. Die dier het my seun Josef verskeur!”

34. Jakob was baie hartseer. Hy het sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het ’n lang tyd oor sy seun gehuil en getreur.

35. Al sy seuns en dogters het gekom om hom te troos, maar hy wou nie hê dat hulle hom moet troos nie. Hy het gesê: “Ek sal aanhou treur oor hom totdat ek sterf.”Jakob het baie oor Josef gehuil.

36. Die Midianiete het vir Josef in Egipte aan Potifar verkoop. Potifar was ’n belangrike amptenaar van die farao. Hy was hoof van die wagte wat die farao moes oppas.

Lees volledige hoofstuk Genesis 37