Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 37:16-30 Bybel vir Almal (ABA)

16. Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. As jy weet waar hulle die skape en bokke oppas, sê asseblief vir my.”

17. Die man sê toe: “Hulle is nie meer hier nie. Hulle het weggegaan van hier. Ek het gehoor hulle sê hulle gaan na Dotan.”Josef het sy broers gevolg en hy het hulle in Dotan gekry.

18. Hy was nog ver van hulle, toe het hulle hom gesien aankom. Voordat hy by hulle gekom het, het hulle ’n plan gemaak om hom dood te maak.

19. Hulle het vir mekaar gesê: “Daar kom die groot dromer aan.

20. Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan vir ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien dat al sy drome niks beteken het nie.”

21. Maar Ruben het dit gehoor en hy wou vir Josef red. Hy sê toe: “Nee, ons moenie hom doodmaak nie.

22. Moenie bloed laat vloei nie. Gooi hom in hierdie put in die veld, maar moenie hom doodmaak nie.”Ruben het dit gesê sodat hy later vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon laat teruggaan.

23. Toe Josef by sy broers kom, het hulle sy lang rok uitgetrek, die lang rok met moue.

24. Hulle vat hom toe en gooi hom in die put. Die put was leeg, daar was nie water in nie.

25. Hulle gaan sit toe om te eet, en toe hulle kyk, sien hulle ’n klomp Ismaeliete wat uit Gilead kom. Hulle was handelaars en daar was boomgom, balsem en hars op hulle kamele. Hulle wou dit na Egipte neem om te verkoop.

26. Juda sê toe vir sy broers: “Ons sal niks kry as ons ons broer Josef doodmaak en daaroor stilbly nie.

27. Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie hom doodmaak nie. Onthou, hy is ons eie broer.”Juda se broers het toe na hom geluister.

28. Toe die handelaars van Midian verbykom, het Josef se broers hom uit die put opgetrek en hulle het hom aan die Ismaeliete verkoop vir 20 stukke silwer. Die handelaars het vir Josef saamgeneem na Egipte.

29. Toe Ruben terugkom by die put en sien dat Josef nie meer in die put is nie, was hy baie hartseer. Hy het sy klere geskeur.

30. Hy het teruggegaan na sy broers toe en hy het vir hulle gesê: “Die kind is nie meer daar nie. Wat moet ek nou doen?”

Lees volledige hoofstuk Genesis 37