Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 27:11-24 Bybel vir Almal (ABA)

11. Jakob sê toe vir Rebekka: “Maar Esau se vel is vol hare en my vel is glad.

12. Miskien voel Pa aan my, en dan dink hy dat ek met hom wil spot. Dan sal hy my vervloek en my nie seën nie.”

13. Toe sê sy ma vir hom: “My seun, as jou pa jou vervloek, dan sal die straf op my kom. Jy moet luister na my. Gaan vang vir my die twee bokkies.”

14. Jakob het gegaan en hy het die bokkies gevang en vir sy ma gebring. Sy het hulle gaargemaak soos sy pa daarvan hou.

15. Toe neem Rebekka haar oudste seun Esau se klere wat by haar in die tent was, en sy trek dit vir haar jongste seun aan.

16. Sy neem ook die bok-lammers se velle en sy trek dit om Jakob se arms en om sy gladde nek.

17. Toe gee sy die lekker vleis en die brood wat sy gemaak het vir haar seun Jakob,

18. en hy gaan na sy pa toe en sê vir hom: “Pa.”En Isak sê: “Hier is ek. Wie is jy, my seun?”

19. Jakob het vir sy pa gesê: “Ek is Pa se oudste seun Esau. Ek het gemaak soos Pa vir my gesê het. Sit asseblief regop en eet van my wildsvleis sodat Pa my kan seën.”

20. Toe vra Isak vir sy seun: “Hoe het jy so gou ’n bok gekry, my seun?”En Jakob antwoord: “Die Here, Pa se God, het my gehelp om gou ’n bok te kry.”

21. Isak sê toe vir Jakob: “My seun, kom asseblief nader sodat ek aan jou kan voel. Is jy my seun Esau of nie?”

22. Jakob het nader gekom na sy pa Isak toe, en Isak het aan hom gevoel. Hy sê toe: “Jou stem is soos Jakob se stem, maar jou arms voel soos Esau se arms.”

23. Isak het nie geweet dat dit Jakob is nie, want Jakob se arms was vol hare soos sy broer Esau se arms. Isak het toe vir Jakob geseën.

24. Maar hy het eers weer gevra: “Is jy regtig my seun Esau?”En Jakob het gesê: “Ja, ek is.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 27