Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 24:39-57 Bybel vir Almal (ABA)

39. Ek het vir my eienaar gesê: ‘Maar miskien sal die vrou nie saam met my wil kom nie.’

40. En hy het toe vir my gesê: ‘Ek dien die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en Hy sal jou help om by my eie mense vir my seun ’n vrou te kry, by my pa se familie.

41. As jy by my familie kom en hulle wil haar nie vir jou gee nie, dan kan jy nie doen wat jy vir my belowe het nie.’

42. Ek het vandag by die fontein gekom en ek het gebid: ‘Here, God van my eienaar Abraham, help my om reg te kry wat ek moet doen.

43. Ek is nou hier by die fontein en ek sal vir die meisie wat water kom skep, sê: “Laat my asseblief ’n bietjie water uit jou waterkruik drink.”

44. En as sy vir my sê: “Jy mag drink, en ek sal vir jou kamele ook water skep,” dan sal ek weet sy is die vrou wat die Here vir my eienaar se seun gekies het.’

45. Ek het nog nie klaar gebid nie, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra en sy het afgegaan na die fontein en water geskep. Ek sê toe vir haar: ‘Laat my asseblief water drink.’

46. Sy het dadelik haar waterkruik laat sak en vir my gesê: ‘Drink, en ek sal vir jou kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink, en sy het vir die kamele ook water gegee.

47. Ek het vir haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ En sy het gesê: ‘Ek is Betuel se dogter. Betuel is Nahor en Milka se seun.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms.

48. Ek het gekniel en ek het die Here, die God van my eienaar Abraham, geprys. Hy het my reg gelei om die dogter van my eienaar se broer vir sy seun te kry.

49. En nou, as julle goed wil wees vir my eienaar, sê dit vir my. Of as julle nie wil nie, sê dit ook vir my, sodat ek kan weet wat ek moet doen.”

50. Toe sê Laban en Betuel vir hom: “Hierdie plan kom van die Here. Ons kan nie vir jou ja of nee sê nie.

51. Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan terug, sodat sy die vrou van jou eienaar se seun kan word. Dit is wat die Here gesê het.”

52. Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy gebuig voor die Here.

53. Hy het presente van silwer en goud uitgehaal, en ook klere, en hy het dit vir Rebekka gegee. Hy het ook vir haar broer en haar ma duur presente gegee.

54. Hy en die ander mans wat by hom was, het geëet en gedrink en gaan slaap. Toe hulle die volgende oggend opstaan, het hy gesê: “Nou wil ek teruggaan na my eienaar toe.”

55. Maar Rebekka se broer en haar ma het gesê: “Jy moet asseblief ons dogter nog tien dae by ons laat bly, dan mag jy gaan.”

56. Die slaaf sê toe vir hulle: “Julle moet my nie terughou nie. Die Here het my gehelp om reg te kry wat ek moes doen. Julle moet my laat gaan, sodat ek kan teruggaan na my eienaar toe.”

57. Hulle het gesê: “Kom ons roep die dogter en vra vir haar.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 24