Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:8-18 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal die herders straf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Vyande het my skape en bokke vir hulleself gevat, wilde diere het my skape en bokke opgevreet, want daar was nie ’n herder nie. My herders het nie my skape en bokke gesoek nie. Die herders het net vir hulleself gesorg, hulle het nie gesorg vir my skape en bokke nie.”

9. Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here.

10. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek die herders se vyand wees. Ek sal my skape en bokke wegvat van die herders, hulle sal nie meer herders wees en net vir hulleself sorg nie. Ek sal my skape en bokke red sodat die herders hulle nie meer kan op-eet nie.”

11. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek self my skape en bokke soek en vir hulle sorg.

12. ’n Herder soek die skape en bokke wat wegraak uit sy trop. So sal Ek my skape en bokke soek en Ek sal hulle red uit al die plekke waarnatoe hulle moes gaan daardie dag toe die donker wolke gekom het.

13. Ek sal hulle uitbring tussen die volke, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ander lande, en Ek sal hulle na hulle eie land bring. Hulle sal wei op die berge van Israel, langs die waterstrome en oral waar daar mense kan woon.

14. Ek sal my skape en bokke laat wei op goeie weiveld. Die hoë berge van Israel sal hulle weiveld wees. My skape en bokke sal wei op die vrugbare weiveld op die berge van Israel.

15. Ek sal self my skape en bokke se herder wees, en Ek sal hulle laat lê en rus nadat hulle genoeg geëet het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

16. “Ek sal die skape en bokke soek wat weggeraak het. Ek sal die skape en bokke terugbring wat oral rondloop. Ek sal hulle seerplekke toedraai, Ek sal die swak skape en bokke weer sterk laat word, maar Ek sal die vet en die sterk skape en bokke doodmaak. Ek sal reg oordeel wanneer Ek self hulle herder is.”

17. Die Here, Hy wat Here is, sê: “En julle, my eie trop skape en bokke, Ek sal nou die regter wees tussen die verskillende skape en tussen die skaap-ramme en bok-ramme.

18. Julle het op goeie weiveld gewei, maar julle was nie tevrede nie, julle het die weiveld plat getrap wat oorgebly het. Julle het skoon water gedrink en julle het die water vuil gemaak wat oorgebly het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34