Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:22-31 Bybel vir Almal (ABA)

22. Ek sal my skape en bokke red. Niemand sal hulle kan vat nie. Ek sal oordeel tussen die verskillende skape en bokke.”

23. “Ek sal een herder kies en aanstel vir my volk, en hy sal vir hulle sorg. Ek sal my dienaar Dawid aanstel. Hy sal vir hulle sorg, hy sal hulle herder wees.

24. Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal oor hulle regeer. Ek, die Here, het dit gesê.

25. En Ek sal ’n verbond maak met hulle sodat hulle vrede kan hê, Ek sal die wilde diere in die land doodmaak sodat my skape en bokke veilig kan wees in die weiveld en sodat hulle tussen die bosse kan slaap.

26. Ek sal dit goed laat gaan met hulle en met die land rondom my heuwel. Ek sal die reën op die regte tyd laat val. Die reën sal dit goed laat gaan met hulle.

27. Daar sal vrugte aan die bome wees en daar sal baie koring wees wat die mense kan afsny. My volk sal veilig wees in hulle land. Hulle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek die jukke breek wat op hulle nekke is en wanneer Ek hulle red van die mense wat vir hulle slawe gemaak het.

28. Ander volke sal nie meer kan kom en hulle wegvat nie, en wilde diere sal hulle nie meer kan opvreet nie. Hulle sal veilig woon en hulle sal nie meer bang wees nie.

29. Ek sal alles vrugbaar maak wat hulle plant. Almal sal dit sien. My volk sal nie meer honger wees nie, en die ander volke sal hulle nie meer beledig nie.

30. My volk sal weet dat Ek, hulle God die Here, by hulle is, die volk Israel sal weet dat hulle my volk is.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

31. “Ja, julle is my skape en bokke, julle is die skape en bokke op my weiveld. Julle is mense, en Ek is julle God.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34