Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het gehoor die Here sê vir my:

2. “Mens, jy moet my boodskap bring vir die herders van Israel. Jy moet my boodskap bring en vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Dit sal sleg gaan met die herders van Israel, hulle sorg net vir hulleself. Herders moet sorg vir die skape en bokke,

3. maar julle eet die skape en bokke se vet vleis, julle maak vir julle klere van hulle wol, julle slag die vetste skape en bokke, maar julle sorg nie vir hulle nie.

4. Julle het nie die swak skape en bokke gehelp om weer sterk te word nie, julle het nie die siek skape en bokke gedokter nie, julle het nie die skape en bokke wat seergekry het, se seerplekke toegedraai nie, julle het nie die skape en bokke wat verdwaal het, teruggebring nie, julle het nie die skape en bokke wat weggeraak het, gesoek nie. Nee, julle het hard en wreed oor hulle regeer.

5. Vyande het hulle na al die kante toe gejaag, want daar was nie ’n herder nie. Vyande het hulle gejaag, hulle was oral, en die wilde diere het hulle opgevreet.

6. My skape en bokke het rondgeswerf op al die berge en op elke hoë heuwel. Vyande het hulle gejaag, hulle was oral, en niemand het hulle gesoek of gevra waar hulle is nie.”

7. Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here.

8. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal die herders straf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Vyande het my skape en bokke vir hulleself gevat, wilde diere het my skape en bokke opgevreet, want daar was nie ’n herder nie. My herders het nie my skape en bokke gesoek nie. Die herders het net vir hulleself gesorg, hulle het nie gesorg vir my skape en bokke nie.”

9. Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here.

10. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek die herders se vyand wees. Ek sal my skape en bokke wegvat van die herders, hulle sal nie meer herders wees en net vir hulleself sorg nie. Ek sal my skape en bokke red sodat die herders hulle nie meer kan op-eet nie.”

11. Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek self my skape en bokke soek en vir hulle sorg.

12. ’n Herder soek die skape en bokke wat wegraak uit sy trop. So sal Ek my skape en bokke soek en Ek sal hulle red uit al die plekke waarnatoe hulle moes gaan daardie dag toe die donker wolke gekom het.

13. Ek sal hulle uitbring tussen die volke, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ander lande, en Ek sal hulle na hulle eie land bring. Hulle sal wei op die berge van Israel, langs die waterstrome en oral waar daar mense kan woon.

14. Ek sal my skape en bokke laat wei op goeie weiveld. Die hoë berge van Israel sal hulle weiveld wees. My skape en bokke sal wei op die vrugbare weiveld op die berge van Israel.

15. Ek sal self my skape en bokke se herder wees, en Ek sal hulle laat lê en rus nadat hulle genoeg geëet het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

16. “Ek sal die skape en bokke soek wat weggeraak het. Ek sal die skape en bokke terugbring wat oral rondloop. Ek sal hulle seerplekke toedraai, Ek sal die swak skape en bokke weer sterk laat word, maar Ek sal die vet en die sterk skape en bokke doodmaak. Ek sal reg oordeel wanneer Ek self hulle herder is.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34