Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 39:29-41 Bybel vir Almal (ABA)

29. Die kleremakers het die skouer-serp gemaak van goeie linne-materiaal en van blou, pers en rooi wol-materiaal, soos die Here vir Moses gesê het.

30. Hulle het ’n blom van skoon goud gemaak vir die tulband, en daarop geskryf soos ’n mens op ’n ring skryf: “Gewy aan die Here.”

31. Hulle het die blom met ’n blou woldraad aan die tulband vasgemaak. Hulle het dit gedoen soos die Here vir Moses gesê het.

32. So het hulle al die werk klaargemaak by die tempel-tent, die tent waar die Here aan hulle verskyn het. Die Israeliete het alles gemaak presies soos die Here vir Moses gesê het.

33. Hulle het die tempel-tent na Moses toe gebring, die tent en alles wat daarby moes wees:die hakies, die rame, die dwarspale, die pale en die voetstukke,

34. die seil van skaapvelle wat hulle rooi gekleur het, die seil van velle wat hulle sag gemaak het, die gordyn,

35. die kis waarin die tien gebooie moet kom, die dra-pale en die deksel,

36. die tafel en alles wat daarby moes wees, die offer-brood,

37. die lampstaander van skoon goud en die lampe en alles wat daarby moes wees, ook die olyf-olie vir die lampe,

38. die goue wierook-altaar, die salf-olie, die wierook, die gordyn vir die ingang van die tent,

39. die brons brandoffer-altaar en die brons tralies, die dra-pale en alles wat daarby moes wees, die was-skottel en die voetstuk,

40. die gordyne vir die oop stuk grond, die pale en die voetstukke, die gordyn vir die ingang, die toue, die penne en alles wat nodig was wanneer hulle gewerk het by die tempel-tent, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het,

41. die klere wat hulle moes dra wanneer hulle in die tempel werk, die gewyde klere vir die priester Aäron en die klere vir sy seuns wanneer hulle priester-werk gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 39